St Nicholas-diens by Sunflower House gehou

0
216
Sunflower House Children's Hospice

Met slegs 19 dae oor voor Kersfees begin mense van die Rosestad die opwinding van die feestyd ervaar en maak hulle gereed vir dié spesiale dag. Vanaand word die jaarlikse St Nicholasdag-diens gehou by Sunflower House Children’s Hospice.
Die aand gaan gevul wees met feestelikheid, ‘n straatmark wat van 17:00 tot 18:00 gaan plaasvind, en ‘n diens wat om 18:00 begin.
St Nicholas was bekend as ‘n onbaatsugtige gewer. Hy het vir God gewerk en daarin geglo dat gee beter is as ontvang. Toe Sunflower House 20 jaar gelede begin het, het dit dié gepaste naam, Saint Nicholas Children’s Hospice, as blyk van waardering vir onbaatsugtige diens gekies. St Nicholas-dag word elke jaar deur Sunflower House gevier wanneer hulle diegene wat hul lewens verloor het, onthou en dankie sê vir die goedhartigheid van bydraers en hul ondersteuning deur die jaar.
“Hierdie jaar is ons trots daarop om ‘n groter en beter diens te lewer as vorige jare. Dit beteken vir ons baie so aan die einde van die jaar waarin ons ons 20ste verjaardag vier. Die geleentheid word aangebied deur Fran-Rico wat optree as seremoniemeester en word gelei deur Vader Lazarus, dekaan van die Anglikaanse Katedraal en geliefde kapelaan van Sunflower House. Die Skotse doedelsakkorps sal musiektussenspele lewer, gedigte sal voorgedra word deur die kinders van ons gemeenskapsdigkunsprojek en Kersliedere gaan gesing word,” sê Dorianne Huygen, koördineerder van Sunflower House Children’s Hospice in Bloemfontein.
Bloemfontein Hospice het ook een van sy bekende Duitse poppe geskenk om vanaand opgeveil te word.
Van die spesiale gaste wat die aand sal bywoon is die burgemeester van Mangaung Metro, the VKB Knights-krieketspan, skoolhoofde van ondersteunende skole, lede van die Dipalesa Pitchov Foundation, Mev. Bloemfontein se wenspan, Miss Capable se wenspan, Mrs Plus Size World Ambassador en baie meer.
Vir meer inligting skakel Dorianne by 060-816-4220. – JERETHA OOSTHUIZEN
jeretha@mahareng.co.za