Springbokbloed vloei in gr. 8s se are

0
716

Die dogter van ’n Wêreldbekerwenner, die dogter van ’n Blitsbok en die kleindogters van twee voormalige Springbokke is vanjaar onder die nuwe gr. 8’s by C&N Sekondêre Meisieskool Oranje.

Een van die graad 8-leerders, Caylin Smith, se pa, Juan Smith, was die Springbokflank toe die Bokke in 2007 die Wêreldrugbybeker in Frankryk verower het. Juan Smith het die Bokke in 70 toetse tussen 2003 en 2014 verteenwoordig.

Ook onder die plankies (OMS graad 8s) is Rumé Burger, die dogter van Philip Burger. Hy het vir die Springbok Sewesspan gespeel en was in 2006 (as heelagter en vleuel) die voorste driedrukker in die Curriebekerreeks. Rumé en nog ’n gr. 8-leerder, Elri Cloete se oupas, onderskeidelik Thys Burger en Edrich Krantz, het albei op hulle dag vir die Bokke en Noord-Transvaal gespeel en in 1981 saam na Nieu-Seeland getoer. Hulle is toevallig ook ewe oud.

Caylin en Rumé se pa’s was spanlede van die Cheetahs wat in 2005 die Curriebeker verower het – een van die grootste hoogtepunte in die Cheetahs se geskiedenis. Ook in daardie span was Chloë (gr. 12) en Donna (gr. 9) le Roux se pa, Ollie, asook Kaylin Oelschig (gr. 10) se oom, Falie Oelschig. Elri se oumagrootjie, Fifi Krantz, was vir tien jaar ’n onderwyser aan Oranje voor sy in 1980 tydens ’n hartaanval in die klaskamer gesterf het.