Sportsterre beloon vir prestasies

0
1048
Donna le Roux, die dogter van die oud-Springbok en Cheetahsstut, Ollie le Roux, is benoem vir Sportvrou van die Jaar-eerbewys vir haar uitstaande spele op die tennisbaan. FOTO: MORGAN PIEK

Die Vrystaat se top sportsterre sal aanstaande maand tydens ‘n glansgeleentheid in Bloemfontein vereer word.

Die Vrystaatse Sportfederasie en die Departement van Sport, Kuns en Kultuur het Vrydag hulle lys van benoemings bekend gestel vir 19 kategorieë waarin sportmans en -vroue hul staal getoon het oor die afgelope jaar. Spanne, afrigters, administrateurs en joernaliste sal ook vereer word.

Die Vrystaatse Sporttoekennings sal egter vir die eerste keer in drie jaar plaasvind weens die wêreldwye Covid-19 pandemie.

Van die grootste name wat vir toekennings genomineer is, sluit die siggestremde paralimpiese langasem, Louzanne Coetzee, asook die koningin van die pad, Kesa Moletsane, en die kranige tennisspeler, Donna le Roux, in.

Elkeen van die 19 pryswenners sal met minstens R10 000 beloon word, terwyl die hoofpryswenners – soos die Sportman en Sportvrou van die Jaar – elk R15 000 sal ontvang. Die paneel wat oor vanjaar se toekennings sal besluit, bestaan uit Joe Mathibe, Thando Mboxwana, Ernesta Strydom, Bongani Chabalala, Aphumele Mdlalane, Kuni Ditira en Khanyi Tabani.

Die 2022 Vrystaatse Sporttoekenningsgeleentheid sal op Vrydag 23 September in Bloemfontein plaasvind.

Benoemings:

Sportadministrateur van die Jaar – Christa Roestoff (driekamp), Kesa Molotsane (atletiek), Thando Mboxwana (basketbal)
Sportman van die Jaar – Jakobus Barnard (boogskiet), Sandile Makwali (karate), Robert Summers (pluimbal)
Sportman van die Jaar met Gestremdheid – Karabo Morapedi (boccia), Elina Lawrence (watersport), Tankiso Hata (tafeltennis)
Sportvrou van die Jaar – Donna le Roux (tennis), Boipelo Mashwabi (tafeltennis), Nthabiseng Majiya (sokker)
Sportvrou van die Jaar met Gestremdheid – Naledi Nhlapo (boccia), Louzanne Coetzee en haar gidse Claus Kempen en Estean Bardenhorst (para-atletiek), Ebony Hendricks (LSEN netbal)
Span van die Jaar – Senior Pluimbalspan, Vrystaatse bocciaspan, Mathaithai FC (sokker)
Nuweling van die Jaar – Kristiaan Klopper (para-atletiek), Kobese Pelebe (karate), Lize-Marie Kruges (watersport)
Afrigter van die Jaar – Zachous Banyana (karate), Morena Ramorebuli (sokker), Marisa Potgieter (boccia)
Vrywilliger van die Jaar – Lehlohonolo Maduna (MMS&R Konfederasie), Elizabeth de Koker – (sokker), Inge Pieterse (FSSAPD)
Inheemse Spele-span van die Jaar – Moyo Khokho-span
Provinsiale Federasie van die Jaar – Vrystaat Krieketunie, Vrystaat Fietsryfederasie
Ontspanningsliggaam van die Jaar – Bloemfontein Goue Meesters en Dames
Sport fotograaf van die Jaar – Becker Semela
Sport Journalis van die Jaar – Morgan Piek, Lientjie Mentz
Skoolspan van die Jaar – Oranje Meisies (swem), HTS Louis Botha (sokker)
Ontwikkelende Skoolspan van die Jaar – Lukhulong Sekondêre Skool, Tsoseletso Hoërskool (sokker)
LUR-toekenning – Toekenning vir uitnemendheid en lewenslange presteerder

-MORGAN PIEK