Spooktoer bied opvoedkundige grille

0
Spooktoer bied opvoedkundige grille
Reza Brits en Eureka Pottas in ware spookgees tydens Alzheimers Vrystaat se jaarlikse spooktoer. FOTO: SANET STRYDOM

Bloemfonteiners met ‘n voorsmaak vir die makabere kon Vrydag (10 Junie) weer Alzheimers Vrystaat se jaarlikse spooktoer meemaak. Dit is die tweede jaar dat hierdie gewilde toer deur die Vrystaattak van die Alzheimersvereniging aangebied word.
Die eerste stop op die toer se reisplan was die skoubrug, waar daar vroeër jare baie ongelukke was weens die skerp draai wat daar eens was. Een van die stories lui dat daar ‘n vrou langs die brug staan en vir motors wink. Die Nasionale Hospitaal is ook ‘n gewilde item op die reisplan. Daar, word vertel, loop ‘n vrou se gees deur ‘n sekere saal wanneer iemand in die hospitaal tot sterwe kom. Die toer, aangebied deur Alzheimers Vrystaat se Reza Brits en Eureka Pottas, fokus egter nie net op bekende spookhuise en -tonele nie, maar bied toergangers ook die geleentheid om meer oor Bloemfontein se geskiedenis en ander besienswaardighede te wete te kom. So het die huidige Dream Supermart byvoorbeeld eens op ‘n tyd aan wyle vermaaklikheidskunstenaar, Al Debbo, se pa behoort. Die eerste bushalte in Bloemfontein is ook op die skedule, sowel as die eerste waterpompstasie in die stad. Net agter die pompstasie is deesdae die tuiste van die Orangia-rolbalklub, wat terloops ook die oudste klub in Bloemfontein is. By Oranje Meisieskool dwaal die rustelose gees van ene Juffrou Felicity Murray glo deur die gange van Le Roux-koshuis. Een van die laaste items op die lys was ‘n besoek aan die bekende Rambler’s Club, Bloemfontein se eerste militêre hospitaal tydens die Anglo-Boereoorlog, wat in 1896 gebou is. Bloemfonteiners wat volgende jaar se toer wil meemaak sal moet wikkel om hul sitplekke te bespreek, aangesien vanjaar se toer volgens Brits “binne ‘n rekordtyd uitverkoop het.” – Dane Beisheim
dane@centralmediagroup.co.za

No posts to display