Spoed is in hul bloed

0
329
Thaart Slater, by sy negejarige renjaer seun, Kyle. FOTO: VERSKAF

Vir die Slater-familie is spoed deel van hul samestelling. Pa Thaart Slater is lewenslank al betrokke by ovaalbaan-resies.

Nou is sy negejarige seun, Kyle, ook op die baan. Kyle se belangstelling in renmotors, volgens Thaart, het begin toe hy slegs drie of vier jaar oud was.

Kyle se verhouding met spoed het eers op ’n “pocket bike” begin, voordat hy opgegradeer het na ’n vierwiel- en groter motorfietse.

Hy was nou vir die eerste keer op die baan in sy eie renmotor. “Dit was baie lekker,” het Kyle vertel. “Ná die eerste ‘hit’ was ek bietjie skrikkerig, maar ek het alles oorleef en dit is oukei.”

Thaart het wel vertel: “Dit was lekker om hom die eerste keer op die baan te sien in ’n regte kar, dit was wel senutergend, my senuwees het geknaag.”

Die jong renjaer sien klaar uit na sy volgende wedren en droom ook groot. “My droom is om soos my pa te wees,” het Kyle vertel.

“Hy is een van die beste ‘racers’ en ek wil eendag ’n hotrod ry.” Thaart, wat ook ovaalbaanresies ry, het vertel hy geniet dit om saam met sy seun te ry.

“Dit is vir my baie lekker om saam met hom te ry. Hy het eintlik al van kleintyd af in resies en karre belang gestel,” het die trotse pa verduidelik.

Kyle het die kompetisie in laer klasse ontgroei, en die Slater-familie het besluit dat Kyle op negejarige ouderdom reg was vir sy eerste renmotor.

Thaart het in November 2023 die Mini in die Kaap raakgesien, en besluit dat dit dié motor sou wees wat Kyle gaan ry, en hy het geglo dat die motor se grootte en spoed vir Kyle sou pas.

“Die Mini het so bietjie aandag nodig gehad,” het Thaart vertel. “Ons het so drie maande aan die kar gewerk, alles oorgedoen en reggekry, en hom oorgesprei soos Kyle dit wou gehad het.”

Kyle was self baie opgewonde oor die motor, en het vertel: “My gunsteling deel is dat hy baie mooi lyk en hy baie vinnig is.”

Kyle het ook verduidelik dat hy dit geniet om “saam met al die ander mense te ry.” Ná sy seun se eerste regte ovaalbaanresies, het Thaart verlig vertel: “Die kar het heel uitgekom, Kyle het heel uitgekom en dit was ons mikpunt gewees.”

Warren Hawkins

Warren@mahareng.co.za