Splinternuwe biblioteek vir Bloemfontein-Oos

0
Splinternuwe biblioteek vir Bloemfontein-Oos

LANI FOUCHÉ

Leerders van die Bloemfontein-Oos Intermediêre Skool spog met ’n nuwe biblioteek met propvol boekrakke. Die Universiteit van die Vrystaat (UV) en die Vrystaatse departement van onderwys het saamgespan om hierdie leerders die geleentheid te bied om aan hul gedagtewêreld vrye teuels te gee met die skenking van meer as 2 000 boeke. “‘Hoe meer jy lees, hoe meer dinge sal jy weet. Hoe meer jy leer, hoe meer plekke sal jy besoek.’ Dr. Seuss sê dit in sy boek I Can Read with My Eyes Shut! Mag dit ook die ervaring wees van leerders by die Bloemfontein-Oos Intermediêre Skool waar die biblioteek vol boeke geskenk is,” lui ’n UV-verklaring.

Met die amptelike opening van die biblioteek, het leerders die geleentheid gehad om te luister na ’n doyenne van Suid-Afrikaanse storievertellers, Gcina Mhlophe. Sy is onder meer ’n uitstekende storieverteller, skrywer, uitgewer, direkteur en internasionale digter.
Tessa Ndlovo, koördineerder van die UV-Skolevennootskapsprogram, het uitgewers en biblioteke gevra om boeke te stuur en in die proses is meer as 2 000 boeke deur die UV se Sasol-biblioteek, personeel en studente geskenk. Nuwe boeke is van uitgewersmaatskappye ontvang. “Ek dink dit is baie belangrik dat die skool ’n biblioteek moet hê om ’n kultuur van lees te kweek,” het Ndlovo gesê.

“Die kantoor van die visekanselier en rektor, prof. Jonathan Jansen, het die opknapping van die biblioteek geborg deur rakke te skenk,” het die UV gesê. Bloemfontein-Oos was die eerste skool wat gebaat het by die UV se Extreme makeover-inisiatief. Die UV sê: “Daar is aandag gegee aan die omheining, elektrifisering, opknapping en die badkamers. Drie trokvragte meubels is geskenk en nog skenkings sal later volg. Die Sakrekenaarprojek (Project of Peace) is deur studente van Amerika by die skool bekendgestel.”

No posts to display