Spits die ore vir Pop-Up Radio

0
1910
DJ Pop

DJ Pop, bekend vir sy vele projekte in die Bloemfonteinse vermaakbedryf, gaan eersdaags op sy eie aanlynradiostasie, Pop Up Radio, gehoor word.
Hy is sowat 20 jaar deel van die plaaslike media- en radiobedryf en het besluit om sy passie vir radio ‘n stap verder te neem. Benewens sy werk as nagklub-DJ was hy was destyds deel van die gemeenskapsradiostasie, BBT, waar hy as vervaardiger, omroeper asook nuusleser gewerk het. Sy liefde vir en uitgebreide kennis van die radiobedryf het hom laat besluit om sy eie ‘n aanlynradiostasie te begin.
“Ek het lankal die idee oorweeg en niks is onmoontlik nie. Vanweë my passie vir radio, wil ek ‘n platform vir mense skep wat dieselfde oor radio voel,” vertel DJ Pop.
Hoewel sy radiostasie vir die hele wêreld toeganklik gaan wees, gaan hy hy meer op die gemeenskap as teikenmark fokus. “Ek wil praat oor dinge wat mense beïnvloed, dinge soos gesondheid. Ek wil met mense soos dokters, prokureurs en kleinsakelui praat,” sê hy.
Die radiostasie gaan ook musiek speel vir vermaak, en gaan hoofsaaklik in Engels en Afrikaans uitsaai. “Selfone is die toekoms. Mense sal net ‘n sekere program moet aflaai en dan kan hulle na die radiostasie luister.”
Hy bieg dat hy bietjie agter is met sy skedule. Hy moes reeds begin het, maar is tans besig om sekere tegniese aspekte uit te sorteer en hoop om in Augustus te begin.
“Aanlynradio word nog nie tot sy volle potensiaal gebruik nie, dit is hoekom ek dit aan mense wil bekendstel.” – JERETHA OOSTHUIZEN
jeretha@mahareng.co.za