Speler vereer ná ongeluk

0
1228
Die 18-jarige Alex Els word deur Grey-kollege se eerste rugbyspan op die hande gedra na hul 92-7 oorwinning verlede Saterdag oor die Hoërskool Duineveld. FOTO: MORGAN PIEK

Twee dae nadat hy sy 18de verjaardag in ‘n hospitaalbed in Mediclinic Bloemfontein gevier het, is ‘n matriekleerder aan Grey-kollege deur die skool se eerste rugbyspan vereer.
Dit het gebeur na afloop van die rugbyspan se groot 92-7 oorwinning teen die besoekende span van Upington, die Hoërskool Duineveld.

Alex Els is reeds byna 100 dae in die hospital nadat hy in Desember verlede jaar sy regterbeen verloor het in ‘n motorongeluk op die pad na die familieplaas by Dealesville. Els se broer en vriend was saam in die voertuig, maar hulle was ongedeerd. Net Alex het in die ongeluk seergekry.

Saterdag kon Alex vir ‘n slag die hospitaal verlaat en het hy sy alma mater besoek vir die eerste span se tweede rugbywedsryd van die seisoen.
Tydens die kragmeting het Alex langs die veld saam met die Grey-seuns die span aangemoedig op pad na die groot oorwinning.

Kort voordat die eindfluitjie geblaas het, terwyl Alex gereed gemaak het om terug te keer na die hospitaal, het van die eerstespanspelers hom gaan haal om deel te wees van die tradisionele kringmaak waar die span omring word deur al die seuns wat die wedstryd bywoon. Hy is ook gevra om die span se gelukbringer, Tommix, vas te hou.
Alex het aan Bloemfontein Courant vertel dat dit beslis ‘n baie spesiale oomblik was en hy het sommer tuis gevoel.

“As die geleentheid dit vra, kom ‘n Grey-seun altyd na vore. Dit was vir my ‘n baie spesiale oomblik.

“Nadat ek soveel tyd in die hospitaal deurgebring het, was ek so bly om weer deel van my Grey-gesin te wees. Hul ondersteuning het ‘n positiewe rol gespeel in my herstel.
“Dit was ‘n groot eer om deel te wees van die eerste span se groepie en om vir Tommix te kon vashou. Dit is soos ‘n droom wat waar geword het.”

Daar is ‘n baie goeie kans dat Alex Donderdag uit die hospital ontslaan kan word ná 99 dae. Hy sal daarna na ‘n rehabilitasiesentrum verskuif word waar hy verder sal herstel. – MORGAN PIEK