Specman terug vanaf die Bokke

0
261
Rosko Specman FOTO: MORGAN PIEK

The Toyota Cheetahs se spoedvraat, Rosko Specman, kan so vroeg as dié week weer die oranje-en-wit rugbytrui oor sy kop trek.

Die Springbokvleuel, Specman, is Dinsdag vrygestel van die Springbokgroep vir die toetsreeks teen die Britse & Ierse Leeus om weer by die Cheetahs-span aan te meld. Die Springbokafrigter, Jacques Nienaber, het sy groep vir die reeks wat in Kaapstad gespeel gaan word van 47 na 37 spelers gesny.

Specman, wat onlangs teen Georgië sy Springbok-buiging gemaak het, was nie beskikbaar vir Woensdag se Curriebekerwedstryd tussen die Cheetahs en Westelike Provinsie nie, maar kan heel moontlik in aanmerking kom vir Saterdag se kragmeting teen die Haaie in Bloemfontein.

Vir Specman is dit ‘n groot slag aangedien hy die kans om vir ‘n tweede keer in die Olimpiese Spele mee te ding van die hand gewys het om in aanmerking te kon kom vir die reeks teen die Britse & Ierse Leeus.

Ongelukkig vir Specman het hy teen Georgië min kans gehad om sy staal te wys in die groen-en-goud. Hy het oopk verlede Saterdag vir die Suid-Afrikaanse A-span uitgehardloop in hul skok-nederlaag van 17-14 teen die Bulle in die Moederstad.

Die goeie nuus vir die Cheetahs is dat Specman nou heelwat wedstryde agter die blad het en ook wedstrydfiks is. Specman het tydens die laaste twee rondes van die Reënboogbeker SA-reeks vir die Stormers uitgedraf as ‘n leen-speler.

Hoewel Specman nie meer saam met die Springbokke is nie, kan hy teruggeroep word indien daar beserings is. Met die hoë intensiteit van rugby wat verwag word tussen die Bokke en Leeus is beserings ‘n groot moontlikheid.

*Teen die druktyd was die kragmeting tussen die Cheetahs en Streeptruie nog nie beslis nie. – MORGAN PIEK