Christopher Motabogi
Suid-Afrikaners het vandeesweek vir die eerste keer meer as R14 per liter vir brandstof begin opdok, maar kenners meen dat dit slegs die begin van ‘n moeilike tyd vir verbruikers is aangesien kos heelwaarskynlik ook binnekort duurder sal word.
Petrol het met 36 sent per liter gestyg en diesel kos nou sowat 28 sent per liter meer. "Die verbruiker kan nie bekostig om brandstof te koop nie, en winkels wat produkte lewer, kan dit ook nie bekostig nie. Dit het die verbruiker se posisie verder verswak," het Gerrie Lewis van die SA Petroleum Retailers’ Association aan ‘n koerant gesê.
Die SA Kamer van Handel en Nywerheid het intussen reeds op 14 Februarie vanjaar ‘n baie negatiewe prentjie geskets van die omgewing waarin besighede sake in die land bedryf. ‘n Peiling onder 64 besighede wat 24 000 mense in diens het, het bevind dat die koste om sake te bedryf die grootse bedreiging is wat die private sakesektor in die gesig staar.
Die Kamer van Handel en Nywerheid se Pietman Roos het vandeesweek gesê die idee van "gordel stywer trek" is dalk ‘n korttermyn-oplossing vir die miljoene verbuikers wat swaar trek met die stygende lewenskoste.
"Ek dink die mediumtermyn-oplossing is om verbruikers op te voed oor besparing en om voor te berei vir tye waneer pryse styg," het Roos gesê.
"Ongelukkig sit Suid-Afrikanaanse verbruikers vasgevang in ‘n kultuur waar meeste mense diep in die skuld is, met baie min spaargeld om hul inkomste ‘n hupstoot te gee waneer pryse wel styg" is Roos se mening.
Intussen het ‘n Facebook-peiling van 2 376 mense verlede week verskeie menings ingewin oor hoe verbruikers hulle rande verder kan rek.
‘n Paar meen dat "’n mens ook sy geld net só ver kan rek", maar die meeste het met Roos saamgestem dat dit uiters belangrik is vir verbruikers om "meer effektief te begroot en om luukse artikels uit te sny".
Date: