Soveel meer as net ’n naam

0
Soveel meer as net ’n naam

MARINÉ JACOBS

In Mei 2011 het Charlize Theron aan die New York Post gesê haar internasionale sukses het Suid-Afrikaanse ma’s geïnspireer om hul dogters na haar te vernoem. “Ek het op ’n plaas buite Benoni grootgeword met ’n groot getal plaaslike meisies – een uit elke drie meisies se naam is nou Charlize.” Hoewel geen amptelike statistieke bestaan om haar stelling te bewys nie, laat dit ’n mens tog wonder hoe ver ouers sal gaan om hul gunstelinge ster te eer! Nadat die fliek The Matrix verskyn het, was daar na glo ’n reuse styging in babaseuntjies wat na Neo (die hoofkarakter) vernoem is. Sedert die vrystelling van Legends of the Fall, het Tristan (Brad Pitt se rol in díe film) die 87ste mees gewilde naam in die VSA geword.

Familiename blyk skaarser te word. Ouers is meer geneig om name te kies waarvan hulle hou, eerder as iets wat vir Oupa en Ouma gelukkig gaan hou. Die vyf gewildste meisiename in Suid Afrika is Emma, Jessica, Monique, Nicole en Kayla. Die vyf gewildste seunsname is Daniel, David, Emmanuel, Richard en Kevin.

Met soveel keuses, hoe kies mens ’’n naam?

Begin deur saam met jou maat te besluit of julle die familienaam-roete wil gaan. Indien wel, hoef julle die baba nie direk na die familie te vernoem nie – julle kan variasies of gedeeltes van ander familielede se name gebruik. Indien julle eerder familiename wil vermy, begin deur ’n lys saam te stel van jul gunstelinge. Sê die name hardop: klink dit sterk, melodieus, kras? Pas die naam by jou baba se van?

Dink aan ooglopende verkortings of byname wat die naam tot gevolg mag hê. Soms kan daar iets kras of vernederend wees. Oorweeg ook of die kind se voorletters tot iets vernederend kan lei – kinders kan baie wreed wees!  Vermy woordspelings – “Holly Wood” gaan oulik wees vir vyf minute en dan sit jou arme kind vir die res van haar lewe met die naam.

’n Unieke naam het die voordeel dat dit sal uitstaan tussen ander name. Dit kan egter ook dikwels moeilik wees om te spel of uit te spreek. Neem in ag dat jou kind moontlik die res van haar lewe die uitspraak en spelling van haar naam sal moet korrigeer. Gebruik die internet of naamboeke om die betekenis van die naam uit te vind. Hoewel mense nie sommer jou seun anders sal behandel omdat sy naam “seun van ’n held” beteken nie, kan dit iets wees wat jy en jou maat belangrik ag.

No posts to display