Sonder of met ’n skottel

0
1099

In vandag se tyd is digitale televisieseine uiters belangrik vir die helderheid van die beeld. ’n Gewone lugdraad het sy beperkinge, maar die duidelikste beeld is dikwels digitaal en via satellietskottel. Mense op die platteland kan die meeste van die tyd geen sein ontvang as dit nie deur ’n digitale satellietskottel en dekodeerder gestuur word nie. Ek het besef dat die prentjie eers sin maak as dit suiwer en duidelik versend word, andersins is dit dof en dikwels nie sigbaar nie. Dit het my laat dink aan die vraag na die sin van die lewe. Die lewe maak eers sin saam met Christus. In Johannes 1 vers 1-4 lees ons: “Die Lewe het gekom: ons het Hom gesien en is getuie daarvan, en ons verkondig aan julle die Ewige Lewe”. As ons Hom sien, het ons lewe weer nuwe betekenis. Ons kyk met nuwe oë na mense, ons seer en die uitdagings van die lewe. Ons lewe word ’n roeping en ons werk word meer as net geld en goed. Ons kies om anders te wees en sy beeld al meer en meer in die wêreld van digitale televisie te leef! Dit doen ons, sodat ander Hom kan sien! Duidelik kan sien!

Ds. Stephan van Heerden

* Van Heerden is ’n geestelike leier by die NG Klipkerk en ’n pastorale terapeut.