Sondagdop steek sommiges dwars in krop

0
513
Photo: Mosselbaai Mall

Bloemfonteiners se oë het die afgelope Sondag gerek toe hulle opgemerk het dat verskeie drankwinkels in die stad se deure oop is.

Vrystaters kan nou spog dat hul een van die ses uit nege provinsies is wat nou op ‘n Sondag iets te drinke kan koop by drankwinkels, wat tot onlangs toe volgens wet gesluit was op ‘n Sondag. Gemengde reaksie het gevolg op hierdie nuwe toegewing, wat vir baie mense as ‘n groot verrassing gekom het aangesien dit stil-stil gebeur het en hulle nie bewus was daarvan nie.

Vir jare reeds is drankwinkels in ander provinsies op ‘n Sondag oop, maar dit is beslis iets nuuts vir inwoners van die Rosestad. Bloemfontein Courant het inwoners se mening gevra.
Eugene Roelofse sê: “Dit bly ‘n keuse. Elke besluit wat jy maak, is ‘n keuse. Niemand dwing jou om op ‘n Sondag te koop nie. Alles hang ook af van hoe jy grootgemaak is en of jy daarvolgens optree.”

Wimpie Blackbeard was baie verbaas. “Werklik? Van wanneer af? Is dit net vir die feestyd? Ek dink dis reg. Almal hoef nie oor dieselfde kam geskeer word omdat Sondae deur Christene geheilig word nie. Dis my saak of ek drank wil koop of drink op ‘n Sondag!”
Jaco Beyleveld het ook ‘n sterk punt gemaak: “Dis nie so erg as wat mense dink nie. Restaurante verkoop drank op Sondae. So dis maar net nog ‘n dag vir besigheid. Mense sal drink as hulle wil drink.”

Ds. Jaco Dreyer van die Hervormde Kerk Langenhovenpark het gesê dit is ‘n hartseerdag as alle dae dieselfde word. “Een dag soos die ander. Nie meer Saterdag, nie meer Sondag, nie meer naweke nie. As jy elke dag moet werk, geen rustyd, geen familietyd. Wel, dit is al amper so. Nou word die handelsure op Sondae verleng, soos op alle ander dae. Geen battery-laaityd meer nie. Dit is gerieflik om ook op ‘n Sondag iets te koop as jy dit nodig het, maar dit bly ongerieflik vir diegene wat moet werk. Almal is bewus van hul regte, maar is die reg op ‘n naweek, op jou eie en familietyd, nou nie iets wat ons self ondermyn nie? Ook die vrye verkoop van alkohol op Sondae. Dit is nou ‘n werklikheid. Alkohol is nie ‘n noodsaaklikheid wat altyd en oral beskikbaar moet wees nie. ‘n Noodsaaklike diens en noodsaaklike middels vir bepaalde omstandighede is begrypbaar en nodig op alle dae. Alkoholverkope op ‘n Sondag is na my mening ‘n onding.”

Jean Marais, besigheidsbestuurder van Shoprite/Checkers Liqour Shop, het by navraag aan Bloemfontein Courant verduidelik dat die Staatskoerant reeds op 30 November 2018 aangekondig het dat drankwinkels oop mag wees en ook meer spesifiek oop tye gekoppel aan die verskillende winkels.

“Drankwinkels in die Vrystaat kon reeds vanaf 9 Desember hul deure op ‘n Sondag oopmaak. Sondaeverkope is aangedui vir ‘n onbepaalde tyd.”

Provinsies wat volgens wet nog nie drank op ‘n Sondag mag verkoop nie, sluit Limpopo, Noordwes en die Noord-Kaap in. Bloemfontein Courant het die Vrystaatse Dobbel-, Drank en Toerismeraad genader vir kommentaar, maar ‘n woordvoerder was ongelukkig nie beskikbaar teen druktyd nie. – Jeretha Oosthuizen
jeretha@mahareng.co.za