’n Hartroerende en betekenisvolle geleentheid open die dansbaan hierdie September in Bloemfontein, met ‘Sokkie van die Jaar’ – ’n aand van dans, vermaak en gemeenskapsbetrokkenheid, alles ter ondersteuning van ’n goeie doel.
Volgens Marlize Ramsden, ’n maatskaplike werker by Childline Vrystaat, word hierdie geleentheid gehou om fondse in te samel vir Childline. Die organisasie fokus daarop om kinders wat slagoffers van mishandeling is te help, veral deur spesialiteitsassesserings en terapeutiese intervensies te bied vir dié wat seksuele mishandeling en trauma beleef het.
“By Childline doen ek onder meer forensiese assesserings met kinders waar daar sprake is dat hulle seksueel mishandel was of blootgestel was aan seksuele misdrywe. So tipe spesialiteitsassessering kos redelik baie geld en sommige families kan dit eenvoudig net nie bekostig nie,” sê Ramsden.
Die ‘Sokkie van die Jaar’ geleentheid belowe ’n heerlike aand van vermaak en pret vir gesinne en kinders. Aanwesiges kan uitsien na ’n bedrywige dansvloer met musiek deur die gewilde DJ Klippies. Afgesien van sy finansiële bydrae tot Childline se inisiatiewe, speel die geleentheid ook ’n beduidende rol in die bewustheid van kindermishandeling.
Deur ’n kindervriendelike en gesinsgeoriënteerde atmosfeer te bevorder, moedig ‘Sokkie van die Jaar’ gesinne aan om saam aktiwiteite te doen. Dit is ‘n geleentheid vir die gemeenskap om saam te kom, pret te hê en by te dra tot ’n saak wat die lewens van weerlose kinders beïnvloed. ‘Sokkie van die Jaar’ vind plaas op 2 September by The Buffalo.
Kaartjies kan aangeskaf word deur Quicket, en die skakel kan op die geleentheid se Facebook-blad gevind word. Kaartjies kan ook gekoop word by Childline se kantore geleë by 54 Aliwalstraat, asook by die deur op die aand van die geleentheid.
Kaartjies kos R150 per persoon of R250 per paartjie. Kinders onder die ouderdom van 12 kry gratis toegang tot die geleentheid.
Justine Fortuin
justine@mahareng.co.za