GEORG VAN ECK
Wat ‘n bonuspunt-sege in hul eerste Super 15-rugbywedstryd in die Vrystaat-stadion vir die Toyota Cheetahs teen die Leeus moes gewees het, het in ‘n nederlaag van 20-21 en wekroep om drasties reg te ruk verander.
Gebeur dit nie, wag daar nog groot slae op die rugbyspan van die sentrale streek; sommer eerskomende Vrydag om 19:10 wanneer die Bulle, die Cheetahs se Nemesis van die afgelope jare, hulle in Bloemfontein kom aandurf. En dan wag die groot kanonne van Australië en Nieu-Seeland.
Die Bulle gaan geen genade hê nie, want hulle het self in hul eerste kragmeting van die seisoen 31-16 teen die Haaie in Durban vasgeval en Pierre Spies en sy span gaan dus alles in die stryd werp om op die wenpad te kom.
Die Leeus het wel geen drie in hul naelskraapse sege gedruk nie, maar die feit is dat die onervare besoekers van Gauteng met mening ingeklim het en hulle in posisies ingespeel het van waar Marnitz Boshoff al sy span se punte met skoppe kon aanteken.
Daarteenoor die die Cheetahs talle kanse om punte aan te teken deur hul vingers laat glip met foute, swak oordeel en onvermoë om af te rond.
Dit is asof die hele Cheetah-span wag dat Willie le Roux van heelagter af die deurbrake moet maak en toe hy meer foute as gewoonlik begaan, het die span planloos gelyk.
Die Cheetahs het geen afdeling van die spel werklik oorheers nie en van vurige inklimspel van die voorspelers, met die uitsondering van enkelinge soos Adriaan Strauss, Coenie Oosthuizen en van die losvoorspelers, is daar min gesien.
Die Leeus het slim takties groot druk op die twee Cheetah-spelskeppers, Le Roux en Johan Goosen, geplaas. Dit het die tuisspan ontwrig.
Spelers soos die vonds van verlede seisoen, Lood de Jager, het ook nie ‘n stempel in die lynstane en vastelos afgedruk nie en sal moet regruk. Agter word nie genoeg ruimte vir die snellers geskep nie, hoewel die nuwelinge, Hendricks en die Venters, Shaun en Francois, goed ingeskakel het en die Cheetahs rotsvas verdedig het, was daar ten min doelgerigte spel.
Naka Drotské en sy besluitnemers sal weer ernstig moet dink oor hul skakelpaar en kombinasie in die voorry.
Punte:
Leeus 21 (9): Straf: Marnitz Boshoff (6). Skep: Boshoff). Toyota Cheetahs 20 (10); Drieë: Raymond Rhule, Cornal Hendricks. Doel: Johan Goosen (2). Straf: Goosen, Elgar Watts.
Ander uitslag:
Haaie 31 (23) Bulle 16 (9).
georg@centralmediagroup.co.za