So kommin soos gras

0
1485

Het jy al ooit probeer uitwerk wat dit kos om ‘n grasperk in stand te hou? Tot 70% van die tipiese voorstedelike huishouding se waterverbruik word vir die grasperk aangewend.
Dan is daar nog die grassnyer met die petrol of krag, die tuinslange, die sproeiers. ‘n Gemiddelde grootte grasperk is nie goedkoop nie.

In die Steentydperk was daar geen grasperke voor die grotte nie. Besoekers in die antieke tyd aan Salomo se Tempel of die Akropolis in Athene of die Verbode Stad in Beijing is nie deur lowergroen terrasse verwelkom nie. Hierdie nuttelose, niks-produserende, geld-opslurpende, heilige stukkies groen oppervlak voor so baie huise is ‘n maaksel van die moderne mens.

Die stryd om Saterdae gras te sny het menige pa-en-seun-verhouding ‘n permanente knou gegee. Ek was al op hoërskool toe ons nog ‘n mensaangedrewe stootsnyer gehad het, een van daai met die horisontale lem-wiel voor wat net draai as jy stoot. Jy moes laag skrum as jy die week-oue kikoejoe wou wen.

Ek het die afgelope vakansie ‘n skrywer, wat ek nie geken het nie, ontdek. ‘n Mens kan Yuval Noah Harari se boeke nie neersit nie. In Homo Deus beskryf hy onder andere die geskiedenis van grasperke. Dit was eers in die laat Middeleeue dat die Engelse en Franse aristokrate begin grasperke rondom hulle paleise en chateaus aanplant het. Gou was dit ‘n statussimbool. Hoe groter die gras-extravaganza rondom die kasteel, hoe meer neus-in-die-lug die hertog of die lord.

Lang storie kort: Die groeiende middelklas sedert die Industriële Rewolusie wou gras hê. ‘n Grasperk het mag, geld en prestige gesimboliseer. En vandag het elke Gotlieb, Gert, en Gawie ‘n grasperk.

Ek hoop van ganser harte die jong Millenniërs, wat so teen alles rebelleer, gaan van al die nikswerd, sinnelose, uitgediende grasperke ontslae raak. Dink net hoe selfonderhoudend hierdie generasie kan wees as hulle groente voor hulle huise plant. Hulle moet net die boontjies en blomkool en wortels éét, dan is die wêreld se obesiteitspandemie ook sommer opgelos.

#GrasMoetGaan. Ou Bees!

Albé Grobelaar