Snyman geniet vryheid by die Knights

0
311
Jacques Snyman FOTO: DAN MULLEN/ GETTY

Die 26-jarige aanvangskolwer, Jacques Snyman, wil volgende seisoen voortgaan op dieselfde manier as wat hy die afgelope seisoen vir die VKB Knights geëindig het.

Snyman het tydens die Momentum-eendagbeker beïndruk met die wilgerlat en gesorg vir baie stabiliteit in die toporde.

Die vernietigende vorm van die aanvangskolwer was genoeg  om sy eerste volle franchisekontrak te verdien.

Snyman het aan Bloemfontein Courant gesê dat ‘n franchisekontrak nog altyd vir hom sy groot doelwit was.

“Dit is vir my ‘n eer en voorreg om vir die komende seisoen by die Knights te wees.

“Vir my was dit nog altyd ‘n groot droom om ‘n franchisekontrak te kry en veral by die Knights. Ek kan nie wag vir die nuwe seisoen om die Knights te kan help om sukses te behaal in die nuwe veldtog nie.

“Ek was gelukkig genoeg om die afgelope seisoen speeltyd te kry en my talent ten toon te stel.

“Baie dankie aan die afrigters, Allan Donald, JP Triegaardt en Werner Coetsee, dat hulle my toegelaat het om met vryheid te kon speel. Dit het my beslis in staat gestel om suksesvol te wees en ‘n paar goeie vertonings te lewer. ”

Verlede seisoen het Snyman teen ‘n gemiddeld van 42,5 lopies in die eendagbeker gekolf, met die hoogste telling van 124 uit 71 aflewerings teen die Cape Cobras. – MORGAN PIEK