Snobs sal altyd met ons wees

0
482

‘n Snob is iemand met ‘n oordrewe verering van rykdom en sosiale posisie, ‘n persoon “wat op beledigende wyse neersien op mense van laer stand”. Woorde soos hooghartig, aanmatigend, vertonerig, pretensieus en selfs geaffekteerd beskryf die snob.
My bankbestuurder-pa het snobisme verafsku. Hy het, by wyse van spreke, neergesien op snobs. Ek het later besef dat hy self ook maar ‘n stewige klap van die snobisme gehad het. Sy eerste vraag as my sussies met ‘n kêrel by die huis aangekom het, sou altyd wees: “Wat doen jou pa?”
En toe ek verlief raak op ‘n spoorwegamptenaar se dogter, het die paterfamilias geen geheim van sy afkeer gemaak nie.
Intussen het die jare aangestap en my pa, wat later jare heelwat verdraagsamer was, is lankal nie meer met ons nie. Maar snobs is soos die armes. Hulle sal altyd met ons wees.
Oor kunssnobs wil ek my liewer nie uitlaat nie. Kunswaardering is ‘n mynveld waar “siniese en snedige snobs selfversekerd die septer swaai” (as ek skrywer Chris Barnard so effens kan parafraseer).
Maar dis die wynsnobs wat ek wil aanvat. Hulle grootste troefkaart is om by ‘n partytjie ‘n peperduur rooiwyn uit te haal waarvan niemand nog ooit gehoor het nie. In hoogdrawende detail sal hulle dan voortborduur oor die ryk boeket en die vermenging van die geure van wilde aalbessie en neutmuskaat, en hoe die suidelike hange drie kilometer van die Atlantiese Oseaan af, waar die druiwe geoes word, ‘n bepalende faktor is.
Die etiket sal lyk soos ‘n onontdekte Picasso wat jy voel jy wil afstoom en raam vir daardie kaal muur in die spaarkamer. Maar as jy die eerste sluk vat, proe jy pure plonk.
My allergunsteling-rooiwyn is ‘n wonderlike merlot met ‘n nasmaak wat agter op die tong herinner aan pruimedant uit die valleie van die Benede-Oranjerivier, met net ‘n ligte skeut aarbei wat in die Bolandse son ryp geword het. Die blou kameelperd op die etiket sou beslis vir Picasso laat wakker lê het. En alle drankwinkels hou dit aan. Dit kos net R33,90.

ALBÉ GROBBELAAR