Sneeuwitjie vermaak vandeesmaand jong gehore

0
2275
Thembisile Baai en Jeanette Badenhorst soos hulle te sien is in die produksie, Snow White and the Seven Dwarfs. FOTO: ESTÉ STRYDOM

Studente van die Departement Drama en Teaterkuns aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) vermaak jong gehore vandeesmaand met hul weergawe van die immergewilde sprokie, Sneeuwitjie.
Annebelle Smit het die teksverwerking van hierdie Engelse kinderteaterstuk gedoen en is ook die reggiseur van Snow White and the Seven Dwarfs.
Snow White and the Seven Dwarfs vertel die verhaal van die bose koningin, Mortitia, wat enigiets in haar vermoë sal doen om die mooiste vrou in die koninkryk te bly. Elke oggend gaan staan sy voor haar towerspieël en vra, “Spieëltjie, Spieëltjie aan die wand, wie is die mooiste in die land?” Die towerspieël het altyd geantwoord, “U is die mooiste in die land”, maar eendag het die spieël ‘n antwoord gegee wat die koningin woedend gemaak het.
Hierdie is die verhaal van die beeldskone Sneeuwitjie wat teen haar sin uit die paleis geneem word. Die koningin stuur ‘n houtkapper om vir Sneeuwitjie in die bos te gaan los. Die houtkapper het onmiddellik op die mooie Sneeuwitjie verlief geraak en haar voor ‘n klein huisie gelos. Sneeuwitjie was baie bang en het besluit om in die huisie te gaan wegkruip. Tot haar verbasing sien sy sewe bedjies en ontmoet sewe dwergies, wat haar lewe verander het.
Snow White and the Seven Dwarfs word op 17 Maart om 11:00 en weer om 18:00, 18 Maart om 11:00, 21 Maart om 11:00, 22 Maart om 15:00 en 24 Maart om 18:00 in die Scaena-teater op die UV se hoofkampus opgevoer.
Kaartjies kos R25 per persoon en/of R20 per persoon vir groepe van 10 of meer. Bespreek by Computicket, 0861-915-8000. Vir groepbesprekings, kontak Karen Combrinck by 051-401-2160.