Sneeubal Musiek maak Bloem trots

0
1004
Chantel Minnie en Wayne Jooste van Sneeubal Musiek.

Sneeubal Musiek is ‘n musiekgroep wat sedert 2017 in Bloemfontein bestaan. ‘n Paar vriende se liefde vir Afrikaans en vir musiek het gemaak dat hulle by mekaar uitgekom het.
Alhoewel die groep slegs ‘n jaar oud is, doen hulle reeds baie goed en het Sneeubal Musiek hierdie jaar selfs by Aardklop opgetree.
Een van die lede van die groep, Chantel Minnie, het aan Bloemfontein Courant vertel hoedat Wayne Jooste die groep begin het nadat hy gevoel het musiek is meer as dit wat hy as een kunstenaar kan beoefen. Hy wou dit met al die ander musikante in Bloemfontein deel.
“Hy wou ‘n gemeenskap bou en ook meer mense leer ken wat in die musiekbedryf is. Die groep kan wissel van twee tot agt musikante en sangers, maar die gewildste keuse is die Sneeubal-“tripod”, Wayne Jooste, Chantel Minnie en Jaco Stief. “Die groep het in hierdie stadium reeds ses liedjies wat op iTunes, Google Play en Shazaam beskikbaar is en hulle is al genader deur kunstenaars soos Jak de Priester, Jo Black en Kaleidoskoop om openingsoptredes vir hulle te doen. Die groep kan bespreek word vir troues, gesellighede en tree ook by markte op. “Ons doen dit tans net in ons vrye tyd, maar werk daaraan om dit iets meer volhoubaars te maak. Ons het ‘n paar oorspronklike liedjies wat ons vir volgende jaar hou en dit is beslis iets om oor opgewonde te wees,”‘ sé Minnie.
Mense wat hierdie groep in aksie wil sien, kan gerus gaan kuier by Inniskuur in Langenhovenpark. – SAZLY HARTZENBERG
sazly@centralmediagroup.co.za