Smith sal begin van plaaslike rugby misloop

0
254
Rhyno Smith in askie teen die Scarlets FOTO: GALLO

Die Toyota Vrystaat Cheetahs is met nog ‘n reuse-slag getref op die vooraand van rugby in Suid-Afrika, wat ná ‘n lang tyd van wag hervat.

Die blitsige Cheetahs-heelagter, Rhyno Smith, sal vir die volgende paar weke op die krukkelys wees nadat hy verlede Vrydag ‘n dyspierbesering opgedoen het tydens die span se kontaksessie op die Toyota-stadion.

Dié speler, wat onlangs vereer is vir tien drieë tydens die 2019/20 Guinness PRO14-reeks, sal tussen drie en ses weke op die kantlyn moet deurbring weens dié besering.

Dit is die tweede groot besering van ‘n Cheetahs-speler sedert hulle hul kontakoefendinge hervat het die afgelope paar weke. Die haker, Wilmar Arnoldi, het ses dae vroeër ‘n wangbeenfraktuur opgedoen, en dieselfde dag ingegaan vir ‘n operasie. Hy kan egter nie beskikbaar wees vir die hele seisoen nie.

Smith sal sonder twyfel die twee oefenwedstryde teen die Griekwas, wat Saterdag en volgende Vrydag plaasvind, misloop asook die openingswedstryd van die Super Rugby Unlock-reeks wat op 10 Oktober afskop.

Smith het aan Bloemfontein Courant gesê sy besering is nie te erg nie en hy hoop om in twee weke se tyd teen die teen Bulle uit te draf.

“Die besering is nie so erg soos wat sommige berigte aandui nie. Ek het wel my dyspier beseer, maar dit is beslis nie ‘n besering wat my loopbaan of seisoen sal beëindig nie.

“In dié stadium is dit nog onseker hoe lank ek uit sal wees, maar ek behoort nog te kan deelneem in die Super Rugby-been van die Curriebeker. Ons kyk na so tussen vier en ses weke, en dit het reeds verlede week begin.

“Ek sal die eerste wedstryd misloop, maar so vanaf die tweede week sal ek reg wees vir die kragmeting teen die Bulle, of anders baie naby daaraan.”

Die Vrystaat en Poubloues pak mekaar vandeesweek in Kimberley, en volgende weekword die buurstryd in Bloemfontein beslis. – MORGAN PIEK