Smith kolf vir sy ou span

0
1287
Franco Smith FOTO: MORGAN PIEK

Die voormalige Toyota Cheetahs-afrigter, Franco Smith, het in hierdie onsekere tyd vir rugby in die Vrystaat gekolf vir die sentrale franchise.

SA Rugby het Woensdag vergader om die pad vorentoe te bespreek, en dit kan beteken dat die franchises in Suid-Afrika tot net vier verminder word.

Dit sal groot finansiële gevolge hê vir die Cheetahs, wat die verdedigende Curriebeker-kampioene is, en kan die potensiële oorsese belegger wat op soek is om in die span te belê, afskrik.

Die voormalige Springbok-losskakel, wat nou die hoofafrigter van die Italiaanse nasionale span is, het aan Bloemfontein Courant gesê die Cheetahs is ‘n baie belangrike deel van die DNA vanSuid-Afrikaanse rugby.

Smith het bygevoeg dat dit ‘n moeilike situasie is en dat die wêreldsituasie weens Covid-19 dinge nie makliker gemaak het nie, maar hy hoop van harte dat daar ‘n oplossing gevind word om na al die Suid-Afrikaanse franchises om te sien.

“Die Cheetahs is ‘n geruime tyd lank ‘n belangrike deel van Suid-Afrikaanse rugby,” het die afrigter, wat die Vrystaat na twee Curriebeker-titels gelei het, gesê.

“Hulle is al voorheen uit die kompetisies geskuif en dit lyk ongelukkig hierdie keer nie goed nie. Hulle was al ‘n deel van die Superrugby as die Cats toe hulle by die Leeus aangesluit het, en toe op hul eie. Later is hulle uit die Superrugby geskuif en het by PRO Rugby aangesluit. Nou word daar ook baie gepraat oor hul toekoms in PRO Rugby.

“Die redes waarom die Cheetahs vir Suid-Afrikaanse rugby belangrik is, het nooit verander nie. Dit is ‘n natuurlike talent-broeikas wat spelers ‘n kans gee, wat gewoonlik nie ‘n kans kry by ander franchises nie.

“Dit is ook baie belangrik vir die sentrale deel van Suid-Afrikaanse rugbyondersteuners, en ook vir die groei van die spel onder die jeug.

“Dit sal ‘n hartseer dag wees as dit gebeur. Ongelukkig besef ons dat die finansies van die wêreld hierdie kompetisies bepaal, en ek weet dat die rugbylandskap wêreldwyd verander.

“Ek hoop van harte dat daar ‘n manier sal wees om ‘n oplossing te vind en seker te maak dat daar goed na al die franchises, ook die Cheetahs, gekyk sal word.”
Soos dit tans staan, is dit onwaarskynlik dat enige Suid-Afrikaanse spanne tot 2022 in internasionale kompetisies sal speel.

Teen die druktyd was SA Rugby se vergadering gister nog nie afgehandel nie. – MORGAN PIEK