Small-Smith ontken Leeus-gerugte

0
450
William Small-Smith onteken dat hy binnekort by die Leeus in Johannesburg sal aansluit. FOTO: GALLO

Die veelsydige Toyota Cheetahs-agterlynspeler, William Small-Smith, het gerugte dat hy die span gaan verlaat, ontken.

Small-Smith is vir die volgende drie maande buite aksie en het tydelik na Johannesburg verhuis om rehabilitasie te ondergaan vir harsingskudding.

‘n Verslag wat die ronde gedoen het, het aangedui dat sodra Small-Smith se rehabilitasie voltooi is, hy by die Leeus sal aansluit.

Small-Smith het by navraag hieroor erken dat hy in sy geboortestad is, maar klem daarop gelê dat hy tot einde aan die van Oktober volgende jaar by die Cheetahs gekontrakteer is.

“Ek is tans besig met my rehabilitasie vir harsingskudding by dr. Jon Patricios en sy span in Johannesburg. Die rede hiervoor is dat dr. Patricios die leier is in sy veld is en aan my die beste kans sal gee om so spoedig moontlik terug te keer.

“Die Cheetahs het toestemming gegee dat ek dit kan doen, aangesien hulle my beste belange op die hart dra en ook glo dat dr. Patricios die regte man is om my te help.

“Ek is tot einde Oktober 2022 by die Cheetahs gekontrakteer en sal alles in my vermoë doen om hulle weer te verteenwoordig as ek gesond genoeg is.”

Intussen reis die Cheetahs vandeesweek na Kaapstad om die Stormers in hul eerste wedstryd van die voorbereidingsreeks te pak.

Die afskoptyd vir hierdie wedstryd in die Kaapstad-stadion is om 17:15 Saterdagmiddag. – MORGAN PIEK