Slimkoppe in wiskunde beloon deur Eskom

0
192
Voor: Algehele kompetisiewenners en top-presteerders van Graad 8 -11 saam met die Vrystaatse LUR vir Onderwys, Tate Makgoe; Eskom-ontwikkelingstigting-uitvoerende hoof, Cecil Ramonotsi; Kagiso en Trust-verteenwoordiger en Provinsiale Vennoskapbestuurder, Michael Phutsisi.

Wiskunde-uitblinkers uit skole regoor die Vrystaat is mildelik beloon vir hul prestasies aan die einde van ‘n provinsiale kompetitisie wat deur die Eskom-ontwikkelingstigting geborg word. Luidens ‘n persverklaaring van Eskom, is die finale ronde van die Vrystaatse Wiskundefees op 11 en 12 Oktober by die Bon Hotel in Bloemfontein gehou. Meer as 300 deelnemers van graad 8 tot 11 het tot die finale ronde van die kompetisie, wat leerlinge van skole regoor die provinsie betrek het, deurgedring.

“Leerlinge wat beter as 50% in wiskunde behaal is genooi om deel te neem aan die kompetisie wat reeds die afgelope vier jaar met sukses aangebied word. Dit begin by individuele skole en kring dan wyer uit na groep- en distrikvlak todat die provinsiale eindronde bereik word. In elke ronde word die top-presteerders aangewys om na die volgende vlak deur te dring,” lui die verklaaring.

Die wenner in elke graad het ‘n verskeidenheid pryse ontvang, insluitende wiskundestelle vir hul skole, slimfone, tablette, geskenkbewyse en kontantbewyse. Die wenners was Caitlin Rossouw van Eunice High School (Graad 8), Lize Ferreira van Eunice High School (Graad 9), Wian Botma van Hoër Landbouskool Jacobsdal (Landboudal) (Graad 10), en Amkitha Diko van Hoërskool Springfontein in Graad 11.  Die algehele wenner, Wian Botma van Hoër Landbouskool Jacobsdal, het weggestap met ‘n slimfoon, twee rekenaartablette, ‘n kragbank, ‘n geheuestokkie en ‘n Oxford-wiskundewoordeboek en ‘n koopbewys ter waarde van R2 000. Die pryse sluit ook ‘n wiskundestel vir die wenskool, ‘n goue medalje en sertifikaat, en ‘n wisseltrofee in.

Die Eskom-ontwikkelingstigting is gemoeid met die implementering van Eskom se Korporatiewe Sosiale Ontwikkelingstrategie in sektore wat ondernemingsontwikkeling, onderwys, gesondheidsorg, sosiale en gemeenskapsontwikkeling insluit.

info@bloemfonteincourant.co.za