Slegs een medalje vir VS by SA senior ope

0
698
RUFUS BOTHA

AVS (Atletiek Vrystaat) se senior atlete kon die naweek by die Suid-Afrikaanse ope-kampioenskap wat in Potchefstroom beslis is ‘n skamele een medalje huis toe bring. En dit was nié goud nie.

Die groot name van Vrystaatse senior atletiek wat die medaljes kon ingeryg het, het geskitter in hulle afwesigheid by ‘n byeenkoms wat as goeie barometer gebruik kon word – wêreldklasatleet of nie.

Heelparty internasionale atlete het egter die Potchefstroom-byeenkoms gebruik om hulle te slyp vir moontlike deelname aan die wêreldkampioenskap wat Augustus in Beijing beslis word.

Die Vrystaat se voorste seniors is egter nie die enigste wat nié aan die byeenkoms deelgeneem het nie; verskeie topatlete van oor die land heen was nie teenwoordig nie.

Hannes Naudé was die enigste senior atleet wat vir die Vrystaat ‘n medalje kon verseker. Hy het in die 800m vir mans die beste wedloop (en beste tyd) van sy loopbaan gehardloop toe hy tweede was in 1:47,74.

Naudé is geklop deur Jacob Rozani (Noordwes-Noord) wat ‘n nie-te-versmaai 1:46,91 aangeteken het. Naudé het die bronsmedaljewenner, Kabelo Mohlosi (Noordwes-Noord, 1:48,79) goed agterweë gelaat.

Die naaste wat die Vrystaat aan nog ‘n medalje (senior afdeling) gekom het, was Gideon Trotter se beskeie vierde plek (10,47) in die 100m vir mans. Roscoe Engel (WP, 10,28) was ver voor hom in die eersteplek.

In die jeugafdeling by die einste byeenkoms het ‘n handjievol Vrystaters medaljes gewen, maar slegs een van hierdie vertonings was beter as die IAAF-vereiste vir deelname aan die wêreld-jeugkampioenskap wat in Julie in Colombia beslis word.

Hesmarie Coetzee het korte mette gemaak van die IAAF-vereiste (57,20) toe sy die 400m vir jeugmeisies in ‘n mooi 55,20 beklink het. Sy was gevolg deur Zeney van der Walt (Gauteng-Noord, 55,86) wat ook maklik die genoemde vereiste behaal het.