Slaggereed vir die eerste skooldag

0
1975
FOTO: MY KLASKAMER

Duisende graad 1-leerlinge oor Suid-Afrika heen het gister hul eerste skooldag begin. Bloemfontein Courant se Jeretha Oosthuizen het verskeie skole besoek om met die Graad 1’s te gesels. Fotograaf Pierce van Heerden het die foto’s geneem.

Siyamthanda Jama het by CBC Primêre Skool begin. Hy was so opgewonde oor sy eerste skooldag dat hy nie gou genoeg sy ouers kon groet sodat hy nuwe vriende kon gaan maak nie. Hy wou eers ‘n brandweerman word, maar het nou sy visier op die polisie.

Mika Jacobs het gister haar eerste skooldag in die Laerskool President Brand in Graad 1B beleef. ‘n Baie opgewonde Mika en wou net hê ma Jeannie en pa Jacques moet loop sodat sy kan begin met skool. Sy wil graag eendag ‘n juffrou word.

Tristan Kotze het hom ook aangeluit by die President Brand-familie. Hy het van oor tot oor geglimlag, hoewel hy graagste van alles alleen in die klas wil wees. Sy ouers, Diederik en Melanie, vermoed hy is skaam vir al die grootmense. Tristan wil graag Batman wees as hy groot is.

Ruben Marais is na die Laerskool Fichardtpark. Hy was verskriklik opgewonde en het heeltyd geglimlag. Sy pa, Jaco, was net so trots om hom in sy grys broekie en wit hempie te sien, met sy groot skooltas op die rug. Ruben wil graag eendag ‘n dokter word.

Ruben Swanepoel het gister sy skoolloopbaan aan Grey-kllege Primêr begin. Ruben is ietwat skamerig, maar vertel dat hy baie vinnig by die rugby- en kirketspan gaan aansluit omdat hy lief is vir sport. Op Bloemfontein Courant se vraag wat hy eendag wil word, vertel sy ma Celia, dat hy, as hy ‘n elektriese kitaar en ‘n stel tromme kan kry, graag ‘n DJ wil word, maar blykbaar is Ruben se eerste keuse om polisieman te wees.