Lydia T Swartz-Harris is in Bloemfontein gebore en het aan die Sekondêre Skool Dr Blok in Heidedal gematrikuleer. Harris is nie net ’n skrywer van gepubliseerde boeke nie, sy is ook ’n sanger.
Harris is trots daarop dat sy kanker en meer as 20 operasies oorleef het. Die skrywer beskou dit nou as geleenthede.
Haar gestremdheid – disleksie – het Harris gedryf om dit te oorkom en sy het verskeie beroepe aangepak, soos die eerste bruin vrouespeurder in Bloemfontein, asook die eerste bruin geregistreerde verpleegster by die Universitas-hospitaal.
“Ek is met disleksie gebore en was genadeloos geboelie en uitgelag omdat ek nie reg kon lees en spel nie. In 1972 het ek my hartseer op papier uitgebeeld. Ek het aangehou skryf en in 1978 opgehou,” noem Harris.
In Julie 2007, droom Harris dat sy kanker het en die skrywer begin onmiddellik tik aan die volumes van Against All Odds. Dit was eers in 2008 wat Harris positief getoets het vir kanker.
“Dis tans 16 jaar in [remissie] en ek dank die Here elke dag,” se Harris. Die skrywer noem dit het haar ’n redelike lang tyd geneem weens haar opname in verskeie hospitale. “Ek doen twee boeke op ’n slag en maak dit gelyktydig klaar in minder as ’n maand en dan moet dit geredigeer word,” noem Harris.
Die verskillende volumes fokus op die genade van God, asook hoe om jong en ou mense wat disleksie het, te motiveer. “Die volume fokus ook op hoe om ouers, onderwysers en kinders te leer om disleksie te hanteer en bewus te maak dat hulle eintlik intelligent is,” noem Harris.
Boeke 3 en 4 gaan eers beskikbaar wees in mid-Junie. Haar boeke is R300 elk en is tans beskikbaar in 36 Dalystraat in Ashbury, Bloemfontein. Skakel Harris op 076-109-0473 om ’n boek te koop of te bestel.
Abigail Visagie
Abigail@mahareng.co.za