Skougangers gaande oor groen produkte

0
1435
Quinton, Julien en Eric van JoJo Tanks.

Die Go Green-ekspo, wat hierdie jaar in samewerking met Bloemfontein Courant op die Bloemskou aangebied is, het wye belangstelling gelok.
Hoewel dié uitstalling slegs drie dae geduur het, kon skougangers veel meer te wete kom oor verskeie maniere waarop mense kan baat vind by ‘n groen leefstyl.
Onder uitstallers wat deel was van die Go Green-ekspo, was onder meer Siteform. Dié onderneming spesialiseer in ligte staalkonstruksie en kon die ruimte aan hom toegestaan, goed benut sodat belangstellendes sy produkte kon besigtig.
JoJo Tanks se personeel het ná die eerste dag van die skou gesê hulle was nie baie besig nie, maar het uigesien uit na ‘n besige Vrydag en Saterdag. Skougangers kon ‘n keuse maak uit hulle verskillende produkte.
Green Overall, wat in waterfiltrasiestelsels soos watertenks en sonkragpompe spesialiseer, se Hardus Engelbrecht kon reeds na die eerste dag sewe klante wat belang gestel het in sy produk opvolg. Hy het aan Courant gesê hy dink die goeie inligting wat hy uitgegee het het bygedra tot die belangstelling in dit wat Green Overall doen.
E-Sienna Life, ‘n besigheid wat tuine mooimaak en tuindienste, tuinuitleg, kunsgras verskaf, se personeellede, Janine en Marlize, was opgewonde oor die skou. Hulle het vertel hoedat hulle die ervaring gebruik om te netwerk terwyl hulle terselfdertyd die skou geniet. “Dit is net verskriklik baie harde werk,” het hulle gebieg.
Feed Grow se interessante produk, Farm in a box, wat ‘n konstante, volhoubare bron van kos vir diere is, het ook baie aandag getrek. Hierdie produk gebruik baie min water en elektrisiteit. Die dierevoer (gras) groei binne ses dae en tot 300 skape of 60 beeste kan per dag gevoer word.
Drikus se Diereplaas was heel interessant en aanloklik vir groot en klein. Daar was 16 diere waaraan kinders en volwassenes kon vat en vryf. Dit sluit donkies, slange, varkies en boerbokkies in. Hulle is nog tot Vrydag 5 Mei by die skou. – Jeretha Oosthuizen
info@bloemfonteincourant.co.za