Die feit dat haar oorlede suster na matriek baie gesukkel het om werk te kry, het ‘n plaaslike sakevrou geïnspireer om haar sakebelange te los en haar tyd daaraan te wy om jong mense “werkplek-gereed” te kry.
Petronella Swartz, wat as sakevrou veral in eiendomme gespesialiseer het, het in Oktober verlede jaar die nie-winsgewende organisasie, Amogelang, begin en gee praktiese ondervinding aan veral leerders van die Lettie Fouché- en Dr. Böhmer-skool.
Sy kry trane in haar oë as sy vertel van haar suster wat voor haar afsterwe moeilik werk kon kry omdat sy nie werkondervinding gehad het nie.
“Dit het my laat besluit om ander jong mense te help deur hulle na matriek vir die werkplek gereed te help maak. Soveel leerders van spesiale skole gaan na matriek na die TVET-kolleges toe, maar sak uit omdat pas vir hulle net te vinning is.
“Dit is hierdie leerlinge wat ons nou probeer help deur vir hulle praktiese opleiding in onder meer sweiswerk, stoffering, naaldwerk, landbou en rekenaars te gee,” sê Swartz.
Die Amogelang-opleidingsentrum word tans grotendeels uit Dr, Böhmer-skool se ou gimnasium bedryf. Die organisasie het egter ook nou ‘n tweede perseel in Oranjesig bekom waar hoofsaaklik rekenaarklasse aangebied word.
“Ons moes ‘n tweede gebou kry waar ons die rekenaarklasse kan aanbied. Ons voorsien dat die lawaai van die sweiswerk, later die rekenaarstudente gaan pla. Die gebou wat ons tans by Dr, Böhmer gebruik, het ook nog baie werk nodig. Ons het darem al ‘n belofte van ‘n groot onderneming gekry om ons by te staan met herstelwerk,” sê Swartz.
Die sowat 15 jong mense wat tans by Amogelang opleiding ontvang, hoef nie nie ‘n sent vir die opleiding te betaal nie. Swartz hoop die organisasie kan vorentoe hulp van die staat asook die sakesektor ontvang om hul werk volhoubaar te maak. Sy is ook baie dankbaar teenoor die groep vrywilligers wat met haar hande vat om ‘n beter toekoms vir jong mense te probeer uitkerwe.
Vir enige navrae of hulp, bel Swartz by 072-017-2296.
Pieter Delport
pieterd@mahareng.co.za