#SkoolKrisis: Nóg skole kan nie vir krag betaal

0
1082
Nóg skole in die Vrystaat is in ‘n kragkrisis gedompel weens munisipale skuld, aangesien die Vrystaatse Departement van Onderwys nog nie subsidies aan skole oorbetaal het nie.

Nadat OFM-nuus berig het oor ‘n skool wat al amper ‘n maand lank sonder krag sukkel, het ‘n lid van ‘n skool se beheerliggaam, wat verkies om anoniem te bly, gesê ten minste nóg drie Vrystaatse skole ervaar ‘n soortgelyke kragkrisis weens onbetaalde elektrisiteitrekenings. Hy het aan OFM-nuus gesê die departement skuld meer as R300 000 aan skole vir die eerste kwartaal van 2018.

Dit kom nadat OFM-nuus gister berig het dat die Nzame Primêre Skool in Rocklands vir amper ‘n maand sonder krag sit nadat hulle versuim het om ‘n rekening van ongeveer R60 000 vir hul kragrekening te vereffen.

Centlec se woordvoerder, Lele Mamathu, sê die skool se laaste betaling was in Januarie. Die skool het slegs R3000 betaal.

Intussen het OFM-nuus die Vrystaatse Departement van Onderwys se woordvoerder, Howard Ndaba, probeer kontak, maar wag nog steeds vir ‘n reaksie. Daar is ook gedetailleerde vrae aan die departement gestuur.

Josca Human / OFM-nuus