Skoolgeld gaan aansienlik verhoog in 2016

0
7038

Ouers in Bloemfontein sal hulle moet gereedmaak vir 'n aansienlike verhoging in skoolgelde vir 2016. Skole sal hul begrotings met baie meer as inflasie verhoog om by te bly met ekonomiese toestande.
Volgens die uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse skole (Fedsas), Paul Colditz, plaas inflasie, prysstygings, munisipale tariewe (wat oor laaste vyf jaar skerp gestyg het) en salarisverhogings groot druk op beheerliggame om hul begrotings aan te pas.
"Skole het ongelukkig geen beheer oor buitefaktore nie. Dit het 'n drastiese impak op skoolgeld. Finansies van skole beloop miljoene rande en daardie geld moet noukeurig spandeer word. Die insette van kundiges is broodnodig om te verseker dat ouers waarde vir hul geld kry," sê Colditz.
Die skoolhoof van Hoërskool Sentraal, Johan Vorster, sê skole word genoop om jaarliks aanpassings ten opsigte van skoolfondse te maak. "Soos ons deesdae in die private sektor sien, is begrotings onder druk. Ons sny maar ons rieme dun. Ons beheerliggaam hanteer persoonlik die situasie met groot omsigtigheid. Ons is in 'n baie delikate situasie om dinge te laat balanseer," sê Vorster.
Sentraal se skoolgeld sal met 12,9%, van R12 900 in 2015 tot R14 510 (per kind) in 2016 styg.
Die skoolhoof van Petunia Hoërskool in Heidedal, Joslynn Fredericks, sê dat ouers wat nie skoolgelde betaal nie nog 'n rede is vir die jaarlikse verhoging. "Ons kry 'n sekere bedrag van die Departement van Basiese Onderwys. Dit is egter nie genoeg nie en dit gaan met tye moeilik hier. By Petunia is dit net die graad 8's wat moet betaal vir registrasie. 'n Groot persentasie van die skool betaal egter nie deur die jaar nie," sê Fredericks.
Volgens Colditz is ouers geregtig om aansoek te doen om algehele vrystelling van skoolfondse. Ouers wat minder as 
10 keer die jaarlikse skoolgeld verdien, is geregtig op vrystelling.
"Gemiddeld 12% van ouers in die land is geregtig op vrystelling van skoolgeld. Dit beteken dat ander ouers moet opmaak, maar die groot probleem is dat die ander 12% wat wel kan betaal, besluit om nie te betaal nie.
"Ouers moet aangemoedig word om 'n gedeelte daarvan te betaal. Dit is in belang van die gehalte-onderrig wat die kinders ontvang," sê Colditz.
Jurie Geldenhuys van Grey-kollege Primêr noem ook dat ander laerskole onder soortgelyke druk verkeer.
"Ons moet self pa staan vir groter uitgawes soos terreinkoste, water en elektrisiteit. Dit is baie meer as die inflasiekoers van 7%. Ons skoolgelde vir volgende jaar is reeds goedgekeur deur die beheerliggaam. Ons skoolfonds styg volgende jaar met 11,5% na R16 500," sê Geldenhuys.
Net die munisipale rekening alleen van skole is 12% van hul totale begroting. Die staat dra slegs 3% tot 7% by tot die lopende uitgawes van sogenaamde groter skole. Die staat se bydrae dek nie eens die water- en elektristeitsrekening van skole nie," sê Colitz.
Die skoolhoof van Laerskool President Brand, Louis Smith, het ouers aangemoedig om deel te neem aan die proses van die verhoging van klasgelde.
"Ons probeer om skoolfondse nie te veel te verhoog nie. Skoolhoofde in Bloemfontein kom een keer per kwartaal byeen om te verseker dat skoolgelde billik is," sê Smith.
"Die wet maak voorsiening vir ouers om hul insette te lewer as dit by die bepaling van skoolfondse en hoe skoolfondse aangewend moet word, kom. Die begroting is beskikbaar vir elke ouer om te besigtig," sê Smith.
Kwintiele (kategorie van welvarendheid) een tot drie skole is nie genoodsaak om skoolfondse te betaal nie, terwyl kwintiele vier en vyf skole self moet opmaak vir die lae regeringsubsidies. – Mark Steenbok
mark@centralmediagroup.co.za