Skool pas Finlandse onderwysgeheim toe

0
1219
Die prinsipaal, Lizette Kotze.

Baie ouers dink dit is maklik om eenvoudig jou kind in ‘n skool te plaas en te dink die kind gaan presteer. Maar is dit regtig die geval? Is die eerste beste hoofstroomskool altyd die oplossing?

Ad Laudem Independent School het sowat drie jaar terug sy deure geopen nadat skoolhoof Lizette Kotze besluit het dat Bloemfontein werklik ‘n skool nodig het wat na sy kinders omsien en met liefde by die kind se ontwikkeling betrokke is.

Kotze was vir 21 jaar in die onderwys voordat sy die besluit geneem het om weg te breek en haar eie ding te doen. Sy wou iets anders begin wat aan elke kind die geleentheid bied om sy of haar eie persoonlikheid te ontwikkel. “Ek het Finland besoek en daar gesien hoe besonders hul leerwyse en die metodes wat hulle gebruik om skool te hou, is. Geen wonder dit is een van die beste onderwyslande ter wêreld nie,” vertel sy.

Die skool is onafhanklik en volg die gewone Caps-stelsel van die Departement van Onderwys. Op Dinsdae en Donderdae het die kinders sport van 09:00 tot 10:00 en op Vrydae word leerders se vaardighede soos tuinmaak, naaldwerk, ens. ontwikkel.

Die geheim agter Kotze se sukses lê moontlik in haar liefde en passie vir die kinders en die onderwys. “Ek het ‘n oopdeurbeleid en ek probeer regtig elke kind en ouer op hul naam ken. As ‘n kind in my kantoor inkom vir ‘n drukkie, dan is hy of sy meer as welkom.”

Sy beskryf ook die verhouding tussen die kinders as iets onbeskryfliks. Die gewone kinders help graag ‘n behoeftige kindjie sonder om ‘n bespotting te maak en doen dit met die grootste liefde. Almal het empatie en simpatie vir ‘n ander.

Kotze vertel dat van die kinders so lief is vir die skool dat hulle smiddae nie wil huis toe gaan nie. Ouers is ook heel tevrede en sien hoe hul kinders se selfvertroue ontwikkel.
“Die geheim is nie net liefde nie, maar die kinders is die petrol wat my aan die gang hou!”
Die skool het aanvanklik met net nege leerders begin en nou, drie jaar later, is daae 203 leerders en 34 personeellede.

Daar is ook sowat 20 kinders met spesiale behoeftes wat baie gelukkig in dié skool is. – Jeretha Oosthuizen
jeretha@mahareng.co.za