‘Skool is die mense, nie die terrein’

0
1252
Die nuwe skoolhoof van die Hoërskool Sentraal, Charles Liversage, en sy vrou, Rozelle. FOTO: Sazly Hartzenberg

Die aanstelling van die Hoërskool Sentraal se nuwe hoof, Charles Liversage, is hierdie week bekendgemaak nadat dit deur die Vrystaatse Departement van Onderwys goedgekeur is.

Liversage, wat op Dinsdag 10 Augustus in sy amp begin het, het vertel dat hy baie opgewonde is en uitsien daarna om dié pos te beklee. Hy glo dat dit vir hom baie lekker gaan wees om deel te wees van Tralies se leerders, onderwysers en ouers.

Hy het verduidelik dat ‘n skool vir hom ‘n plek is waar ‘n kind kan leer, veilig kan voel tussen sy maats, nie bang sal wees oor wat sy maats agter sy rug sê nie en waar hy tuis voel.

“Skool moet ‘n plek wees waarheen ‘n kind wíl gaan om by sy onderwysers en vriende te wees. As ons die skool se waardes reg uitleef, gaan die skool ‘n plek wees waar almal wíl wees.”

Liversage het tydens sy verwelkoming aan die leerders gesê dat die skool “die mense is en nie die terrein nie”. Die voorsitter van Sentraal se beheerliggaam, Dirk Pretorius, het Liversage by die skool verwelkom. Volgens hom het die proses om ‘n nuwe skoolhoof aangestel te kry, ‘n ruk geneem, maar hulle is bly dat hy uiteindelik daar is en dat dit ‘n voorreg vir die skool en sy onderwysers is.

“Ons wil graag hê dat mnr. Liversage die Hoërskool Sentraal weer ‘n skool maak wat in sport, akademie en kultuur floreer; ‘n skool waarna almal in die Vrystaat kan opkyk.”

Pretorius het onderwysers en leerders aangemoedig om Liversage te ondersteun om ‘n sukses te maak van die jare wat voorlê.

Sazly Hartzenberg

sazly@mahareng.co.za