Skool bou gedenkmuur ter nagedagtenis aan geliefdes

0
632
Die gedenkmuur wat gebou is ter ere van die oorledenes van die Hoërskool Bloemfontein.

Die Hoërskool Bloemfontein het ‘n gedenkmuur gebou ter ere van ontslape persone wat betrokke was by die skool. Dit kom nadat ‘n onderwyser by die skool siek geword het en oorlede is nadat sy vir ‘n lang tyd bedlêend was.

Awie Smit, terrein- en gebouebestuurder van die skool, het aan Bloemfontein Courant vertel dat die idee om so ‘n muur op te rig die lig gesien het met die dood van ‘n geliefde onderwyser, Liza Lotz. “Ek is verantwoordelik vir die terrein en geboue by die skool. Van die onderwyseresse wou iets vir Liza doen, soos byvoorbeeld om ‘n boom te plant. Ons het dit goedgedink om iets meer blywends te doen vir enige skolier wat tydens sy of haar skooljaar, of enige personeellid wat sedert die skool se ontstaan in 2000, gesterf het,” het Smit gesê.

Awie Smit, terrein- en gebouebestuurder van die Hoërskool Bloemfontein, wat betrokke was by die muur, van die totstandkoming tot by die afhandeling daarvan.

Hy vertel hoedat gesprekke gelei het tot die beplanning en oprigting van die gedenkmuur, uitsluitlik om eer te betoon aan ontslapenes. Die muur bestaan uit sement en siersteen, met gedenkplaatjies wat elk baksteengrootte is. Daar is op die oomblik gedenkplaatjies vir vier personeellede en nege leerders.

“Ons wou graag die ontslapenes vereer op ‘n permanente wyse. Ons het ook ‘n tuin rondom die muur geskep om die rustigheid te beklemtoon en ook respek te wys. Daar is ook ‘n bankie opgerig sodat diegene wat daar wil sit en mediteer op so ‘n manier hulde aan die ontslapenes kan bring.”

Die muur beteken vir Smit as onderwyser baie omdat hy deurentyd betrokke was by die projek, van die totstandkoming tot by die afhandeling daarvan.

“Dit voel ook vir my persoonlik dat ek personeellede en leerders wat ons aan die dood afgestaan het, so kan vereer.”

Die muur is nog nie onthul nie omdat alles eers gefinaliseer is in die laaste week van die skoolkwartaal voor die kort vakansie. Daar sal in die laaste kwartaal beluit word op ‘n geskikte datum vir die amptelike onthulling van die gedenkmuur.

Heidre Malgas
heidre@mahareng.co.za