Skoleprojek help leerlinge in nood

0
659
Hester Bekker, Uitvoerende hoof en stigter van Guardian and Angel

Om die 2022-skooljaar op ‘n goeie noot af te skop, het ‘n paar Bloemfonteinse inwoners koppe bymekaar gesit om alle behoeftige leerders in die stad te help.

Volgens Hester Bekker, uitvoerende hoof en stigter van die nie-winsgewende organisasie Guardian and Angel, het sy, Nico Niemand, Magda van der Bank en die winkelgroep Sweet Zone besluit om skryfbehoeftes, boeke, ou tasse, ou skoolklere en skoolskoene in te samel om aan leerlinge wat dit nodig het, te skenk. Guardian and Angel verleen reg deur die jaar verskeie vorme van bystand aan kinders.

Bekker doen ‘n beroep op al die gemeenskappe in Bloemfontein om saam met hulle hierdie projek aan te pak deur sover hulle kan skenkings te maak. “Ons pak jaarliks die een of ander skoolprojek aan. Hierdie jaar is die nood ongelooflik groot onder leerlinge uit behoeftige huishoudings. Baie ouers het hul werke verloor weens die Covid-19-pandemie en ons moet hulp verleen om vir elke kind in nood ‘n beter toekoms te bied.”

Sy sê skenkings wat ontvang word, gaan nie net verligting in Bloemfontein bring nie, maar ook aan leerlinge in Dealesville ‘n uitkoms bied. Daar sal by al drie die Sweet Zone-winkels in die stad houers wees waarin skenkings geplaas kan word Die winkels is Sweet Zone Kay Centre in Fleurdal, Sweet Zone Gardenia Square in Gardeniapark, en Sweet Zone Rendezvous Centre in Langenhovenpark.

Vir meer inligting kan Bekker by 072-423-6277 gebel word.

Sazly Hartzenberg

sazly@mahareng.co.za