Skole slaggereed vir waterpolotoernooi

0
530
Sestien van Suid-Afrika se top-waterpoloskole sal vandeesweek op die jaarlike spog- ITEC/Grey-kollege 0.14-waterpolotoernooi in Bloemfontein sake uitspook. FOTO: MORGAN PIEK

Opwindende waterpolo-aksie word vandeesweek verwag wanneer die jaarlikse ITEC Grey-kollege o.14-waterpolotoernooi in Bloemfontein plaasvind.

Die afgelope tyd se warm weer in die Rosestad maak dit die perfekte manier vir jong latte van regoor die land om dié sport te geniet.

Sestien van die top-waterpoloskole in Suid-Afrika sal van Donderdag tot Saterdag by die Gustav Fichardt-swembad by Grey-kollege in aksie wees.

In Groep A is Jeppe (Johannesburg), Northwoord (Durban), St. Benedict’s (Johannesburg) en St. Andrews’ (Grahamstown) in aksie. Die kragmeting tussen Jeppe en St. Benedict’s sal ‘n buurstryd wees aangesien dié twee skole baie naby mekaar in Johannesburg geleë is en groot teenstanders is.

In Groep B sal St. John’s (Johannesburg), ITEC-uitnodigingspan, Paul Roos (Stellenbosch), en Grey High (Port Elizabeth) mekaar die stryd aansê.

In Groep C sal Reddam (Johannesburg), Clifton (Durban), Selborne (Oos-Londen), en Affies (Pretoria) sake uitspook.

Die gasheer, Grey-kollege, is in Groep D saam met St. Alban’s (Pretoria), St. David’s (Johannesburg) en Pearson (Port Elizabeth).

Die aksie begin Donderdagoggend om 11:00 met St. John’s en die ITEC-uitnodigingspan wat sake in die eerste wedstryd uitspook. Grey-kollege (blou pette) speel om 12:00 in hul eerste wedstryd teen St. David’s. Vrydag en Saterdag se wedstryde begin om 08:00. – MORGAN PIEK