Skole begin die jaar op ’n hoë noot

0
1205
Deelnemers aan die oopwater-swembyeenkoms by Maselspoort.

Leerders van oor die land het verlede week teruggekeer skool toe, sommige vir hul eerste skooldag, ander het begin met ‘n hoër graad, party het hoërskool toe gegaan en vir die matrieks het hul laaste skooljaar begin.

Bloemfontein Courant het met ‘n paar skole gesels om uit te vind hoe die eerste week by hul skole verloop het.

Gideon Goosen, bermarkingsbestuurder van die Hoërskool Sentraal, sê die skool se jaar het op ‘n hoë noot begin. Die nuwe graad 8-leerders is reeds op Dinsdag 8 Januarie verwelkom en het op 10 Januarie na Maselspoort vertrek waar hulle aan boeresport deelgeneem het. “Sentraal het ook op Vrydag 11 Januarie die amptelike opening van die skool se Astrobaan gehad. Dit was ‘n geleentheid met hope pret. Die res van die maand word daar uitgesien na die kleure-atletiekbyeenkoms, sottekonsert en kleure-swemgala.”

Eunice-leerders het die afgelope naweek reeds die skool se naam hoog gehou toe 90 van die 311 deelnemers aan die Kovsie Aquatics-oopwaterbyeenkoms Eunice-leerders was. Luchelle Oosthuizen, ‘n graad 9-leerder was die tweede meisie uit die water. Daar gaan ook vanjaar 164 leerders en agt Eunice-personeellede op 10 Februarie die Midmarmyl aandurf.
Eunice se graad 8’s het die jaar met ‘n twee-dag-oriëntasieprogram begin waar hulle bekend gestel is aan die skool se etos en waardes, hul onderwysers en matriekmentors leer ken het en deel geword van die skoolroetine.

Januarie is propvol opwindende aktiwiteite en gebeure soos die Grey-gala, ‘n digkunswerksessie, ‘n noodhulp vlak 2-kursus, inter-huisgala, ‘n skryfwerksessie, ‘n leerderswelweesweek, tenniskampioenskappe en ‘n Rekeningkunde- en Wiskunde-kamp vir senior leerders.

Grey-kollege het die jaar vroeg-vroeg afgeskop met die Grey-krieketfees in Port Elizabeth. Die tradisionele sotte-sokkie by Meisieskool Oranje het reeds plaasgevind. Die jaarlikse Grey-gala het gisteraand tussen Stad en Koshuis aan die beurt gekom. Die graad 8’s sal, soos volgens tradisie, ‘n onvergeetlike oomblik beleef wanneer hulle oor die verhoog stap en hul Grey-baadjies vir die eerste keer aantrek. – Jeretha Oosthuizen
jeretha@mahareng.co.za