Skoenprojek trap diep spore in talle lewens

0
257
Die Hoërskool Jim Fouché was weer die eerste stopplek vir die 2019-Voetsporeprojek.

Elke jaar hierdie tyd skop leerders van verskeie skole regoor die land hul skoolskoene vir altyd uit. Nadat Juanita Potgieter, ‘n amptenaar van die Departement Politieke Studie en Regeerkunde by die Vrystaatse Universiteit, ‘n paar jaar gelede in ‘n tydskrif gelees het hoedat matriekleerders in een van die skole in Pretoria die inisiatief geneem het om hul skoene, nadat hulle hul laaste vraestel geskryf het, op hul tafels agter te laat, het sy besluit om die rolspelers te kontak en die Voetspore-projek in Bloemfontein te begin.
Potgieter het aan Bloemfontein Courant verduidelik dat sy die skoolhoof van ‘n plaaslike skool genader het en so is daar oor die afgelope drie jaar 1175 pare skoene ingesamel. Hoewel sommige van die skoene nie bruikbaar was nie, kon daar ongeveer 1000 kinders en volwassenes van skoene voorsien word. Potgieter sê die leerders wat skoene geskenk het is trots daarop om te kan teruggee aan hul gemeenskap. “Die idee is dat kinders kan besluit op hul eie, unieke manier van ‘n ‘uitskop-seremonie’ om dit deel te maak van hul skool se tradisies,” sê Potgieter.

Op die vraag wie voordeel trek uit die projek, het sy verduidelik dat Bloemfontein Child Welfare, Engo Family Services en soms Carpe Diem skoene kry wanneer nodig. “Ons het ook ‘n paar minderbevoorregte skole in landelike gebiede wat nie onder maatskaplike dienste val nie, met wie ek direk werk.”
Verskeie ‘uitskop’-seremonies word nog in hierdie maand in Bloemfontein gehou en hierdie jaar gaan die projek ook skoene skenk aan die Rotary Club van Bloemfontein Thabure om vir een van die skole wat hulle ondersteun te skenk,” sê sy. Persone wat graag skoolskoene en/of tekkies het wat hulle wil skenk, is welkom om Potgieter te skakel by 084-749-5160. Daar is ‘n groot behoefte aan skoolskoene vir leerders vanaf graad 7 tot matriek. – Sazly Hartzenberg
sazly@centralmediagroup.co.za