Skoenprojek skop weer af in Bfn

0
494
Van links is Lehana van der Merwe, Juanita Potgieter, Anke Kotze, Zane Bester en Liz du Plooy van kindersorg

Elke jaar hierdie tyd skop leerders van verskeie skole regoor die land hul skoolskoene vir altyd uit.

Nadat Juanita Potgieter, ‘n amptenaar van die Departement Politieke Studie en Regeerkunde aan die Universiteit van die Vrystaat, ‘n paar jaar gelede in ‘n tydskrif gelees het hoedat matriekleerders in een van die skole in Pretoria die inisiatief geneem het om hul skoene, nadat hulle hul laaste vraestel geskryf het, op hul tafels agter te laat, het sy besluit om die rolspelers te kontak en die Voetspore-projek in Bloemfontein te begin.

Volgens Potgieter is dit nou die vyfde jaar dat Voetspore met hierdie projek besig is. Die eerste uitskop-seremonie vir 2020 het by die Hoërskool Jim Fouché plaasgevind.
“Ons het 122 pare skoene ingesamel, wat deur Lize du Plooy van Child Welfare Bloemfontein & Childline Free State afgehaal is,” sê sy. Sy het ook vertel hoe wonderlik dit was om te sien hoeveel leerders omgee en hul harte oopgemaak het.

Sy wag nog op van die ander skole om datums en tye van hul seremonies aan haar deur te gee. Ander skole wat jaarliks deelneem aan hierdie projek, is onder meer, Jim Fouché Primêr, Tjokkies, Grey, Oranje Meisieskool en Sentraal Hoër.

Persone wat graag skoolskoene en/of tekkies het wat hulle wil skenk, is welkom om Potgieter te skakel by 084-749-5160. Daar is ‘n groot behoefte aan skoolskoene vir leerders vanaf graad 7 tot matriek.

Sazly Hartzenberg

sazly@centralmediagroup.co.za