Skenk bloed, red ‘n ma

0
929

Bykans 800 vroue sterf wêreldwyd elke dag weens komplikasies tydens swangerskap. Tans is sowat 27% van moedersterftes die gevolg van ernstige bloeding tydens kraam. Van die oorsake wat verantwoordelik is vir 75% van sterftes, volgens die Wêreld-gesondheidsorganisasie, is bloeding tydens geboorte tweede. Bestaande mediese toestande wat deur swangerskap vererger word, soos diabetes, malaria, HIV en vetsug is eerste op die lys.
In Afrika is bloeding tydens swangerskap die rede vir 34% van sterftes en hoewel moeder-sterftes in sub-Sahara-Afrika met meer as 50% tussen 1990 en 2013 verminder het, is meer werk nodig om die getal vroue wat sterf af te bring. 
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBS) het in 2010 gerapporteer dat verloskundige en ginekologiese gevalle 26% van die bloedvoorraad vir daardie jaar gebruik het. Ander mediese gevalle, soos bloedarmoede, het 27% van die bloed gebruik.
"Die meeste van die moedersterftes kan verhoed word en bloedoortappings kan die verskil tussen lewe en dood vir baie bloeiende moeders maak," sê die kommunikasiebestuurder van die SANBS, Vanessa Raju.
Die SANBS samel daagliks sowat 3 000 eenhede bloed in en is vasberade om bewustheid rondom die noodsaaklikheid vir bloed te bevorder en sodoende seker te maak dat minder Suid-Afrikaanse moeders doodbloei.
Dr. Marlene Bothma, 'n verloskundige en ginekoloog by 'n akademiese hospitaal in Johannesburg, beklemtoon die belangrikheid van bloedeenhede vir haar pasiënte.
"Met die noodtoestande wat ons het, verloor pasiënte heelwat bloed. As ons nie genoegsame voorraad het nie, kan hulle sterf. 
Vrouemaand is 'n goeie geleentheid om donateurs daaraan te herinner dat wanneer hulle tyd maak om bloed te skenk, red hulle moeders wat binne ure sou sterf sonder 'n genoegsame voorraad om bloed wat met geboorte te verloor word, te vervang." sê Vanessa.
Ter ondersteuning van Vrouemaand moedig die SANBS Suid-Afrikaners aan om donateurs te word en so te verseker dat meer pasgebore babas saam met hul moeders kan opgroei. Vir meer inligting oor hoe om 'n donateur te word, besoek die webwerf http://www.sanbs.org.za en Facebook by https://www.facebook.com/SANBS.