Die Universiteit van die Vrystaat se Dramadepartement bied vandeesweek ‘n heerlike dubbele vertoning aan met die titel Johanna, O Johannes en ‘n Kwessie van verbeelding. Dié twee skreeusnaakse, komiese eenbedrywe in een word onder leiding van Thys Heydenrych vandag en môre in die Scaena-teater op die planke gebring.
Johanna, O Johannes is deur Louis de Villiers neergepen terwyl Nico Luwes verantwoordelik vir ‘n Kwessie van verbeelding is.
Johanna, O Johannes vertel die verhaal van Jonnie wat universiteit toe kom as nuwe eerstejaar. Hy word vergesel deur sy ouma, Johanna Petronella Boshoff, en sy pa, Gabriel. Die probleem is egter dat Jonnie geseënd is met al sy ouma se name en dus het die universiteit hom in Huis Kanferfoelie geplaas, ‘n dameskoshuis. Konsternasie breek uit: Mev. Kruger, die matrone, weier om hom toe te laat in die koshuis, terwyl junior administratiewe assistent, mnr. Venter, ‘n oplossing probeer vind. Hoe nou gemaak? Jy sê nie nee vir Johanna Petronella Boshoff nie en per slot van rekening, Gabriel het dan sy depositostrokie as bewys van betaling.
‘n Kwessie van verbeelding handel oor Nicholas en sy pel Gerald, wat ongesiens inbreek by Nicholas se eksmeisie, Michelle, se koshuiskamer, op soek na ‘n bondel briewe wat hy vir haar geskryf het. Die twee, veral Gerald, kom vinnig agter dat hulle ‘n baie gevaarlike terrein betree het. Met die wulpse Juffrou Poerstamper op hul spoor en Natalie, wie se verbeelding haar op hol jaag, bevind Gerald en Nicholas hulle in onmoontlike situasies. Wat anders kan hulle doen as om blitsvinnig gedaanteverwisselings te ondergaan om “in te pas”?
Vanaand en môre-aand se optrede begin om 19:30. Kaartjies kos R40 per persoon en R30 vir studente, skoliere, pensioenarisse by Computicket. Ouderdomsbeperking van 14 vir taal.