‘n Jong skaaphondjie word tans opgelei om die Grootbrulpadda uit te snuffel as deel van ‘n meestergraadstudent se navorsing aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus.
Die ses maande oue Jessie het pas met haar opleiding begin om dié paddas onder die grond te kan uitruik. Die Grootbrulpadda is tans ‘n beskermde spesie in Gauteng aangesien sy habitat geleidelik krimp weens verstedeliking.
Jessie se eienaar, Esté Matthew, vertel sy het met die idee vorendag gekom en ná ‘n gesprek met haar studieleier, prof Ché Weldon, het hulle ‘n program uitgewerk waarmee Jessie kan help met Esté se M-studie in dierkunde.
Jessie kom van twee werkende ouers op ‘n skaapplaas naby Bloemfontein af. Sy woon by ‘n vriendin van Esté, aangesien sy in Wag-‘n-Bietjie-koshuis woon. ‘n Navorsingskollega van Weldon en geoloog van Swede, Peter Bergman, het hulle onlangs besoek om hand by te sit met die fynere opleiding van Jessie. Bergman se eie hond, ‘n Duitse herderhond, is opgelei om met minerale eksplorasie te help.
Este sê hulle het twee weke gelede met haar opleiding begin en is baie verras oor hoe vinnig sy gevorder het. Hulle het aanvanklik met biltong in ‘n houer begin en later ‘n teemengsel aangemaak en dit stelselmatig verdun tot daar net een persent tee in die mengsel oor was. Jessie kon dit steeds uitruik. Hulle het toe met paddavel-reuk begin om te voorkom dat sy skrikkerig sou wees tydens eerste kennismaking met ‘n lewendige padda.
Este sê Jessie kan nou al een tot 100 000ste van die reuk in ‘n houer onder die grond uitruik. “Dit is net fenomenaal en ons het geen idee hoe sensitief haar reuksin is nie.”
Jessie is eers in laboratoriumtoestande opgelei, later na ‘n gekontroleerde tussenstadium (mesokosm) in die buitelug en die volgende stap sal wees om haar veld toe te neem na areas waar hulle weet brulpaddas voorkom.
Weldon sê die opleiding word op ‘n wetenskaplike, betroubare wyse uitgevoer en dieselfde toets word tot veertig keer herhaal ten einde ‘n betroubare resultaat te lewer.
Weldon sê die Afrika-brulpadda hiberneer vir tot elf maande van die jaar ondergrond en is slegs vir sowat ‘n maand (gewoonlik November/Desember) bogronds om te broei en eiers te lê as dit genoegsaam gereën het. “Dit maak dit dus uiters moeilik om die paddas die res van die jaar op te spoor. Daar is ‘n nood om die brulpaddas op te spoor voordat ontwikkeling plaasvind, anders kan dit gestaak word en ontwikkelaars miljoene rande kos.”
Weldon en ‘n kollega, prof Louis du Preez, het twee jaar gelede só ‘n ondersoek naby Heidelberg in Gauteng vir Transnet gedoen waar hulle wel die brulpaddas opgemerk het en die regte aanbevelings vir die ontwikkeling in die gebied kon maak. “As ons dit buite die broeiseisoen gedoen het, het ons nie die paddas gekry nie.”
Die doel met Jessie se opleiding is om die brulpaddas betyds uit te snuffel om die spesie te help bewaar en om die ekologie rondom hulle habitat te ondersoek. Weldon sê dit sal ook help om ‘n buffer-area rondom die habitat te bepaal, want kennis oor die gedrag van die jong metamorwe is nie bekend nie.
Weldon sê Jessie sal later ook opgelei word om padda-siektes uit te snuffel om hulle in die diagnostiese fase te help. Tans word paddas gevang en duur en langsame molekulêre toetse moet in laboratoriums gedoen word om vas te stel of die paddas sekere vel-infeksies het. Die swamme op die vel gee ‘n eiesoortige reuk af en met Jessie se sensitiewe neus sal sy dit moontlik kan uitruik.
Hy sê Este fokus tans met haar MSc op die brulpadda, maar sal in die volgende fase uitbrei na ‘n PhD-studie om te help om bedreigde spesies uit te snuffel. Soos die Amatola-skurwepadda in die Hogsback-gebied. Dié padda was vir sowat twaalf jaar “weg” voordat een padda weer so drie jaar terug gesien is. “Die spesie is nie uitgesterf nie, maar kom in ‘n bitter klein area voor en ons kan met Jessie na nog individue/populasies soek. Sy sal ons kan help om die verspreiding en bewaringstatus van die Amatola-skurwepadda na te vors.”
Jessie, met haar wakker ogies en waaiende stert, kan nog ‘n waardevolle instrument word om meer inligting oor paddas te bekom om die spesies beter te beskerm.
-verklaring