Grey Kollege se hoogaangeskrewe Makro Uitnodigingskaak-toernooi vir hoërskole vind op 12 en 13 April die elfde keer in die Reünie-saal van die skool in Bloemfontein plaas. Die topskaakskole van Noord-Gauteng, KwaZulu-Natal en Wes-Kaap sal vanjaar weer hul vernuf teen topskole van die res van die land beproef.
Die formaat van die toernooi is aangepas. Dit sal ’n vyf ronde Switserse toernooi wees waarin spanne in twee afdelings meeding. Dit bied ook aan spanne van kleiner skole die kans om op gelyke voet mee te ding. Die wenspanne van onderskeidelik die A- en B-afdeling wen, sal weer stewige prysgeld ontvang. Pryse en medaljes sal vir die eerste drie plekke in albei afdeling toegeken word. Die totale prysgeld beloop R6 000 en word deur Makro geborg.
Skaak van besonder hoë gehalte word verwag. Met so baie van die spelers met graderings van digby 2000 in Bloemfontein in aksie, beskou die uitvoerende liggaam van skaak in Suid-Afrika, CHESSA, dit as een van die hoogtepunte op die skaakkalender van die Vrystaat.
Met 65 spanne van 30 skole wat in die toernooi deelneem, is dit die grootste skoletoernooi naas die Suid-Afrikaanse kampioenskap.
Aanstaande jaar sal die Uitnodigingstoernooi ook op CHESSA se kalender as ’n kwalifiserende toernooi gereken word.
Hoërskole, wat in aksie sal wees, is: Afrikaanse Hoër Meisie- en Seunskool, Waterkloof, Pretoria Boys’ High, Eldoraigne van Centurion, Prestige Kollege, Brandwag van Uitenhage, Durban, Glenwood, Rondebosch, Wynberg, Grey Kollege, Eunice, Sentraal, Fichardtpark, Martie du Plessis, Marlow, Tswellang, Springfontein, Olien van Fauresmith, Marais Viljoen en Hodisa.