Sjef-wenke vir kindervriendelike kos

0
1033

LOUWNA ERASMUS

Kinders hou nie van gesonde kos nie – dit is die meeste ma’s se indruk. Maar daar is blykbaar raad vir moedelose ouers wat al laag gedaal het om kinders om tafel om te koop! Sjef Lesley Jacobs, direkteur aan die Food and Beverage Institute (FBI) se dogtertjie Julia Ruth is nou byna een jaar oud. Bambini het by hom gaan aanklop vir ‘n paar praktiese kosmaak wenke.

"As jy jou kinders leer eet, volg die pad van natuurlike soet kos na bitter kos," sê Jacobs. Dit wil sê dat jy moet begin met groentes, veral geel groente en daarna groen groentes sodra hulle gereed is om vaste kos te begin eet. "Onthou die groen groentes is hoog in suur en die manier om daarvan ontslae te raak – sodat dit goed proe – is om dit oop te kook," sê Jacobs. Hy beveel aan dat jy ophou om die kind se kos te vermom met veral sout, botter en suiker. "Anders gaan hulle vir die res van hulle lewens niks sonder daardie ekstras eet nie."

Iets wat hy opgelet het by baie kinders, is dat ouers glo kinders hou van ‘n mengelmoes, maar dit is nie waar nie. "Laat jou wortels soos wortels proe en boontjies soos boontjies," sê Jacobs. Anders, verduidelik hy, sal hulle nooit ‘n kossoort met ‘n sekere smaak kan assosieer nie. "Met Julia was ons grootste probleem tekstuur," sê Jacobs. "Sy het so gegril dat haar kleintoontjies omkrul – dit was baie, baie snaaks." Jacobs het al agtergekom dat dít ‘n algemene probleem is waarmee ouers sukkel – die oorgang van Purity of puree na gekookte kos. "Ons het eenvoudig begin om die stysels soos rys en aartappels super fyn te maak en ‘n bietjie by alles te sit sonder om te veel aan die ander groentes te verander." Jacobs vertel dat dié strategie nogal suksesvol was.

Ysteraanvullings is ook belangrik vanaf nege maande en Jacobs beveel aan dat jy dit eers met kos moet regkry voordat jy aanvullings takel. "Ons gee vir Julia lewersmeer, maar party tipes bone, soos botterbone, is ook hoog in yster."

As Jacobs se raad in ‘n neutedop moet pas, beveel hy aan dat jy geen botter, olies, sout of suiker by jou kind se kos moet voeg voordat hy een jaar oud is nie. Hy moet leer om smake te identifiseer. "En, vermy asseblief soetgoed," sluit Jacobs af, "want hulle het nie die vermoë om die energie te verbrand nie!"

Julia Ruth se beesmaalvleis gunsteling
500g Beesmaalvleis
250g Sopgroente
Lewersmeer
Verbruin die maalvleis en voeg die sopgroente by. Kook stadig tot gaar. Roer lewersmeer by en geniet!
Sjef Lesley voeg ‘n klein bietjie basiliekruid-pesto by net vir ‘n bietjie oemf…