Sjef leef sy droom, ondanks doofheid

0
1271
Kobus Bester en Nomsa Shibani (junior sjef) FOTO: KELNÉ PHOTOGRAPHY

‘n Sjef van Bloemfontein, wat van kleins af na ‘n loopbaan in kosmaak gehunker het, was so passievol hieroor dat hy nie die feit dat hy doof is, in sy pad laat staan nie.

Dié droom het pas vir Kobus Bester (33), ‘n sjef van Bloemfontein, tot vervulling gekom toe hy vanweë groot deursettingsvermoë en toewyding daarin geslaag het om sy eie spysenieronderneming te begin.

Bester, wat vir agt jaar lank die hoofsjef by Leopards & Lace in Bloemfontein was, vertel dat dit nog altyd een van sy grootste drome was om sy eie onderneming te begin. Hy sê dat sy ouma sy grootste inspirasie was. “Die manier hoe sy kos gemaak het en al die lekker reuke het my laat besluit om ‘n sjef te word.”

Sy onderneming, J.M.J Catering, is na sy oupa, Jacobus Marthinus Johannes, vernoem en het ontstaan uit ‘n voorstel, ‘n “plan B”, wat sy skoonsuster vir hom gemaak het toe hy verlede jaar sy werk weens inkorting met die Covid-19-pandemie verloor het. “My skoonsus, Antonette, het klaar ‘n naam, advertensies en alles vir die onderneming in plek gehad. Sy is ook my vennoot, en ek is so dankbaar vir haar.”

Vir Kobus is dit ‘n lekker gevoel om te besef dat in die kort tyd sedert hy sy onderneming begin het, daar nie een negatiewe opmerking van enigiemand was nie. “Ek gaan uit my pad om goeie diens te lewer,” sê hy. Hy vertel dat sy besigheid in Oranjesig geleë is en dat hy van begrafnisbroodjies tot troukoeke, soutborde en wat ook al by hom bestel word, voorsien. Spyseniering vir all geleenthede is sy werk. “Noem dit en ek doen dit!”

Kobus is nie skaam om te sê, “Ek is so dankbaar teenoor die mense van Bloemfontein en wil net aan almal wat my al ondersteun het, baie dankie sê. Ons sou dit nie kon doen sonder julle nie.”

Om vir Kobus in die hande te kry, kan mense hom bel by 082-566-6638 of 073- 255-6376.

Sazly Hartzenberg  

sazly@mahareng.co.za