MARICELLE BOTHA
Noem die naam Arco Musica in ‘n geselskap en jy kan seker wees iemand met groot bewondering vir die groep sal na ‘n rits suksevolle produksie verwys.
Sowat 21 jaar gelede het Arend en Debbie Brink, albei professionele musici, ‘n begeerte gehad na ‘n groep musikante wat die gaping tussen ernstige klassieke musiek en meer eietydse musiek kon oorbrug. Vandag is daar mense soos André Rieu en selfs Luciano Pavarotti wat wêreldbekendheid verwerf juis omdat hulle dié gaping kon oorbrug.
Op 31 Oktober bied Arco Musica Symphony at the Woods by die Woodlands Function Venue aan. Dié produksie is ‘n konsert van simfoniese omvang met ‘n kombinasie van instrumentale en vokale treffers. Met uitvoerings soos die temalied van die film The Mission, "The Piano Guys Overture", Carly Simon se "Let the river run", Bordin se "Poolse danse" en Rachmaninoff se "Klavierkonsert nr. 2" bied hierdie konsert iets vir ‘n ieder en ‘n elk.
Volgens Arend beloof hierdie produksie om die gehoor, soos in die verlede, te verras met ‘n stylvolle uitvoering van hoë artistieke standaard. Debbie is die dirigent en het ook meeste van die musiek vir die konsert verwerk.
"Een ding wat ons altyd probeer vermy is om vervelig te wees. Dit is dus klassiek-georiënteerd met ‘n pop-angle," sê Arend.
Arco Musica het aanvanklik uit drie lede bestaan, toe vyf, en nou, ná 21 jaar, bring hulle steeds elke jaar konserte na Bloem-gehore wat hulle weer en weer laat terugkom.
Die Arco Musica-simfonieorkes spog tans met 25 van die beste musici uit sentraal-Suid-Afrika. Dit sluit die sangers Elmarie Potgieter, Herman Strauss, Tsidi Gude en nuweling Cézanne Yzelle in. André Venter, ‘n gewese lid van die groep Romanz, is die seremoniemeester vir die aand van die Symphony at the Woods-konsert, en sal self sy sangstem laat opklink.
Kaartjies vir Symphony at the Woods kos vanaf R120 en is beskikbaar by Computicket.