Siekte kry nie jong dromer onder

0
158
Liandi het op haar “Droomdag” ‘n skootrekenaar en oorfone ontvang om haar te help om haar droom om eendag ‘n neurochirurg te word, te bewaarheid.

Vir die 16-jarige Liandi, wat met twee lewensbedreigende siektes van die hart gediagnoseer is, is die moontlikheid dat haar lewe enige oomblik tot stilstand kan kom ‘n werklikheid.

Maar dit het nie haar gees gedemp nie. Om met hierdie siektes saam te leef het haar geïnspireer om ‘n neurochirurg te word wanneer sy groot is, omdat sy graag ‘n kuur vir haar siekte wil vind.

Liandi het langdurige QT-sindroom en dysautonomia. Dit beteken dat haar hart enige tyd kan gaan staan en dat sy bygebring sal moet word om dit weer aan die gang te kry.

Die Reik na ‘n Droom-stigting wou graag aan dié dapper mensie ‘n bietjie vreugde bring. “Op haar ‘Droomdag’ is sy soos ‘n koningin behandel en kon ‘n nag deurbring by die Kimberley Anne Hotel. Ons het ook aan haar ‘n skootrekenaar en “beats”-oorfone gegee om haar te help met haar studies en haar droom om ‘n neurochirurg te word, te bewaarheid,” sê Reik na ‘n Droom-koördineerder in Bloemfontein, Sandra Basson.

Basson voeg by dat Liandi se inspirerende gees wys dat sy graag iets wil teruggee. “Ten spyte daarvan dat sy daagliks veg om haar lewe, wil sy ander help. Hierdie jaar gaan sy deelneem aan die Telkom 94.7-bergfietsuitdaging om geld in te samel vir Reik na ‘n Droom. Omdat sy so siek is, gaan ons die 8 km-uitdaging ry, wat op sigself ‘n groot mylpaal vir haar is. Kobus Robbertze en ek gaan saam met haar ry om seker te maak dat sy veilig is en deurentyd na omgesien word.”

Die Droomrit is ‘n fondsinsamelingsgeleentheid vir die stigting. Dit neem drie ryers om een kind se droom te vervul en hierdie jaar gaan dit die organisasie se doelwit wees om ten minste 200 Droomryers se drome te bewaarheid. Dit beteken hulle het 600 bergfietsryers nodig om dit te laat waar word.

Die Droomrit-inskrywingsgeld is R1 800 per ryer, ter ere van die stigting se 30ste bestaansjaar. “Deur in te skryf by www.dreamriders.co.za, sal die publiek die geleentheid hê om hierdie droom werklik te maak. Ons wil graag ons fietsryers aanmoedig om R3 000 in te samel. Die totale inkomste uit bydraes gaan aan Droom-Vervulling!” sê Basson. – Seithati Semenokane
seithati@centralmediagroup.co.za