Siekte demp nie Janique se lewenslus

0
672
Klein Janique Venter , wat op ses maande met kanker gediagnoseer is.

Klein Janique Venter en haar ouers kort gebede meer as ooit tevore. Janique is op die ouderdom van ses maande met neurblastoomkanker gediagnoseer.

Haar tannie, Cherize Burger, het aan Bloemfontein Courant vertel dat daar in hierdie stadium geen operasie moontlik is nie weens die feit dat die kanker van haar nek af tot by haar breinstam versprei het. Sy sê ook dat alle chemo-behandeling tot dusver onsuksesvol was. Jamique het die afgelope 10 maande twee verskillende soorte chemoterapie ontvang, waarvan die eerste nie so sterk as die tweede was nie.

Burger sê albei ouers probeer moed hou, maar hulle is verslae oor die slegte nuus wat hulle twee weke gelede ontvang het toe daar vir hulle gesê is dat niks meer vir Janique gedoen kan word nie behalwe ‘n Hickmanline (binneaarse chemodrup), wat hierdie keer nog ‘sterker’ chemo beteken.

Dit was ‘n rowwe tyd vir Janquie en haar familie, wat nou baie emosioneel en onseker is oor wat gaan gebeur en wat die toekoms vir hulle inhou. Janique se keel is reeds driekwart toe omdat die gewas aanhou groei het. Sy eet sleg en kan nie behoorlik sluk nie. Haar asemhaling word ook geraak.

Burger vra dat Bloemfonteiners asseblief moet bid. Daar is ‘n 50/50 kans dat sy kan oorleef. Kinders wat die Hickmanline oorleef loop egter steeds die gevaar van infeksie of hartskok. Sy is Woensdag weer opgeneem ter voorbereiding vir die Hickmanline. As sy kan deurdruk, sal sy vir verskeie weke in die hospitaal wees.

“Ons bid dat die gewas kleiner sal word na die chemo omdat ‘n operasie nie ‘n opsie is nie. Janique is ons klein vegtertjie. Al is sy so klein, blyk dit niks haar onder kry nie, sy glimlag steeds deur dit alles, al is dit soms ‘n klein ou glimlaggie. Na elke behandeling, selfs as sy siek is, weier sy om in die bed te bly. Sy is vasberade om op te staan en te speel. “Asseblief, ons het gebede nodig, ons dien ‘n wonderlike God en Geneser.”

As iemand ‘n bydrae tot haar fonds wil maak, sal die familie dit graag aanvaar en waardeer. Burger kan by 076-979-7093 gekontak word. Mense kan die dogtertjie se storie op Facebook volg by ‘Hulp, gebede vir Klein Janique Venter’. – Sazly Hartzenberg
sazly@centralmediagroup.co.za