Georg van Eck
Tien weke van taai voorbereiding is besig om vrugte af te werp. Die afgelope Saterdag op Kroonstad het die Shimlas nóg ’n sterk vertoning in opwarmingswedstryde teen rugbyspanne van die Universiteit van Johannesburg (UJ) gelewer. Shimlas se Castle-span het naelskraap 10-13 teen UJ se tweede span verloor, terwyl die Shimlas se Pepsi-span die voorste span van UJ 21-18 geklop het. Dit was ’n uiters belowende vertoning teen UJ, wat verlede jaar een van die drie topspanne in die ENB Varsitybeker-reeks was.
Kragtige skrumwerk en die wyse waarop die spanne van die Shimlas telkens met hoë tempo-spel die oorhand teen hul groter en swaarder teenstanders van UJ gekry het, was die hoofkenmerk van die wedstryde. “Ons is baie tevrede met die voorspelers se spel. Met Boom Prinsloo ook terug, het ons baie goeie losvoorspelers om van te kies,” het Hendro Scholtz, voorspeler- afrigter van die Shimlas gesê.
Die was egter die skrumwerk van veral die twee stutte, Schalk van de Merwe en die Sharks-aanwins, Nick Schonert, wat groot indruk gemaak het. UJ se swaar agttal is meer as een keer in trurat geplaas. Dieselfde het gebeur toe Franco van der Merwe as loskopstut vir die Castles ingespan is. In die twee wedstryde het die Shimlas nie minder nie as vier vaskoppe gehaak. In die lynstane het JC Astle, Neil Claassen, Fanie van der Walt en Oupa Mohoje goed gevaar, hoewel die ingooiwerk van die hakers nie na wense was nie. Een haker-kandidaat, JC van Wyk, is nog beseer en sy wedywering met Wikus Deysel, Elandre Huggett en Martin van Heerden, kan deur ingooiwerk bepaal word.
Die twee losskakels, Franna du Toit en Pieter-Steyn de Wet, het afgeronde vertonings gelewer, terwyl die mededinging tussen die skrumskakels, Renier Botha, Kay-Kay Hlongwane en Kevin Luiters, die beste uit die spelers haal. Ongelukkig het die Shimlas in die middelveld gesukkel. Net Robbie van Schalkwyk en Reinhardt Erwee, wat ’n terugkeer van ’n besering gemaak het en nie lank op die veld was nie, het met eer uit die stryd getree. Daar was min volle agterlynbewegings en die buite-agterspelers, JJ de Klerk, AJ Koortsen, Neil Marais en Ludwig Erasmus, het min of geen hardloopkans gekry. Dit sal reggestel word. Die Shimlas het ook té veel balbesit in kontak verloor.
Die punte volgens Varsitybeker-stelsel:
UJ tweedespan 13. Shimlas Castles 10. Drie: Henco Venter. Doelskop: Pieter-Steyn de Wet. Skepdoel: De Wet.
Shimlas Pepsi’s 21. Drieë: Wickus Deysel, Robbie van Schalkwyk, Neil Claassen. Doelskoppe: Franna du Toit 2. UJ eerstespan 18.