GEORG VAN ECK
Kovsiesrugby het verlede week en afgelope naweek in die Rosestad fees gevier ná ’n eeu van sprankelrugby en trotse geskiedenis. Die eeufeesviering het ’n crescendo bereik met die aankondiging van Shimlas se Rugbyspelers van die Eeu.
Twee internasionaal gerekende Springbok-rugbyspelers van die Vrystaat, Shimlas en Kovsies. Die een ’n sterk, vaardige losvoorspeler en leier, maar ook ’n ware gentleman en die ander ’n gevreesde klipharde, meedoënlose senter en spanman duisend. Albei het met hul blote teenwoordigheid op die veld internasionale teenstanders lugtig gemaak.
Juan Smith en Joggie Jansen is as Shimlas van die Universiteit van die Vrystaat se Voor- en Agterspeler van die Jaar bekroon.
’n Beter keuse kon daar kwalik gewees het, want hulle is legendes in hul eie tyd.
Daar is ook bekend gemaak dat die internasionale bekende Rugbymuseum van wyle Choet Visser in Inneslaan, Bloemfontein deur die bemiddeling van Visser se skoonseun, prof. Nico du Plessis, na die kampus van die universiteit geskuif gaan word. Visser was as ’n internasionale rugbyambassadeur van besoekende spanne ’n Vrystater en Shimlas-man in murg en been – ook ’n legende.
’n Eerbewys aan wyle Visser is deur sy dogter, Veronica du Plessis, in ontvangs geneem.
Met die Oud-Shimlas, -Bok en televisie-aanbieder, Toks van der Linde, as seremoniemeester, was daar talle ander hoogtepunte en uitstekende toesprake.
Prof. Jonathan Jansen, rektor van die Kovsies, het in sy heildronk aan Kovsie-rugby onder meer sy familieband met “neef” Joggie Jansen verduidelik – dit het groot byval gevind het.
Die DVD-vertoning van Kovsie- en Vrystaat-rugby op die skerms in die Callie Human-sentrum het die eerste verowering van die Curriebeker in 1976 deur Vrystaat met 13 Shimlas in die span gewys. Joggie Jansen se beroemde plettervat op die All Black-senter Wayne Cotrell; beskrywings en huldeblyke deur voormalige en huidige klubvoorsitters, spelers, afrigters en administrateurs soos die vader van Kovsiesport, Ewie Cronje, asook proff. Basie Verster en Brand Claassen, Harold Verster, Barry Wolmarans, Marius van Rensburg en Tat Botha, het dineegaste vasgenael gehou.
Ná die toespraak van die prof. Coetsies Coetzee is eerbewyse aan van dié bogenoemde persone asook onder andere aan wyle prof. Vic Mostert, Nelie Smith, Gustaf Pansegrouw, die skrywer van die Kovsierugby Eeufees-boek, Frikkie van Rensburg, wyle Steve Strydom, Sakkie van Zyl en talle ander oorhandig.
Grapjas Leon Schuster, ’n oud-Shimla en Vrystater, het met sy Naas Das-manewales en sang sy Kovsie-kamerade verhoog toe gelok om saam te sing en ’n kans aan Van der Linde gebied om sy Opera-repetoire uit te stal.
Die dinee is voorafgegaan deur saamtrekke en wedstryde van oud-Kovsies en ’n optog van oud-Shimlas deur die dekades op Shimlapark.
Dit is gevolg deur die groot wedstryd tussen Oud-Shimlas en huidige Shimlas. Die ou manne is deur die voormalige Shimlas se Vystaatse senters, Waksie Prinsloo en David van Vuuren, en voormalige Bok-flank, Theo Oosthuizen, afgerig en bestuur.
Shimlas het net te veel skietgoed gehad en 41-5 gewen, maar die ou manne onder aanvoering van Chris Kruger het Shimlas in die eerste skof opgekeil om die rustydtelling op 7-5 te staan te bring.
Daar is talle hoogtepunte van die kleurryke en trotse geskiedenis van Kovsierugby uitgebeeld en dit illustreer onteenseglik dat ’n stewige grondslag gelê is waarop Kovsie-rugby met trots kan voortbou.
Date: